My Ouma groet Langenhoven

Rubriek

Hierdie is ‘n aktuele rubriek

deur Amanda Spies du Plessis

my ouma groet langenhoven

Omtrent Rubrieke

Rubrieke is basies artikels waarin die skrywer sy of haar opinie met die lesers deel.

Tipes Rubrieke

My Ouma groet Langenhoven elke oggend in Oudtshoorn wanneer hulle verby mekaar loop. Die presiese jaartal is ietwat onseker.  Dit is egter iewers tussen 1920 tot en met 1926. My Ouma het graag die storie vertel en ongelukkig het ek as kind en tiener nie die waarde daarvan besef tot ná haar dood nie.

Johanna de Jager gebore in 1901 – my Ouma – was die enigste dogter met 4 broers en ongekend vir daardie jare het haar ouers besluit hulle enigste dogter moet ook ’n geleerdheid kry soos hulle seuns. Sy is gestuur na Oudtshoorn om haarself te bekwaam as onderwyseres.

Ouma land in Oudtshoorn

Ouma het matriek gehad wat ook uitsonderlik was vir daardie jare. Ouma het vir musiekonderwyseres geleer en het in die koshuis tuisgegaan. Blykbaar was die ou onderwysers kollege aanvanklik deel van die Hoër meisieskool wat  geleë was waar die Polisiekantoor nou is in Barron van Rheede straat. CJ Langenhoven se huis Arbeidsgenot was en is steeds in Jan van Riebeeck straat. Tussen die twee strate in Kerkstraat is die bekende hangbrug en dis waar die storie interessant word.

My Ouma groet Langenhoven

Volgens my Ouma was haar koshuis in Jan van Riebeeck straat geleë – waar die Hoërskool Oudtshoorn se seunskoshuis tans is. Sy moes dus elke dag heen en terug oor die hangbrug stap na die kollege en weer terug na die koshuis. Ouma het vertel dat Langenhoven ’n baie bekende gesig op Oudtshoorn was en hy het graag vir wandelings gegaan. Soggens op pad na die kollege het sy vir Langenhoven raakgeloop op die hangbrug. “Môre meneer Langenhoven” en dan het hy sy hoed gelig en gegroet: “Môre juffrou Johanna”. ! Smiddae het hulle mekaar weer op die brug gegroet en ’n paar woorde gewissel. Hy het elke student op sy of haar naam geken en graag geselsies met die studente aangeknoop.

Langenhoven het niks daarvan gehou dat Ouma se kollege net in Engels klas gegee het nie en dit terwyl die meeste studente se huistaal Afrikaans was nie.

Hy het ook nie Engelse woorde tussen Afrikaans geduld nie en sou Ouma aanspreek wanneer sy nie suiwer Afrikaans gepraat het nie. ’n Paar jaar later is Engels deur Afrikaans as die kollege se voertaal vervang. Dit is nie duidelik of Langenhoven ’n hand daarin gehad het nie.

Ouma het die hoogste lof gehad vir CJ Langenhoven – ’n gewone mens sonder aansittery. Sy bekendheid het hom nie gepla nie en jongmense en hulle geleerdheid was vir hom belangrik.

Afrikaans was sy groot liefde en hy het dit vurig verdedig.

2 Comments

  1. scrapydo2.wordpress.com

    17 April 2023 at 11:08 pm

    Dis ‘n pragtige terugblik op jou ouma Johanna en Langenhoven se daaglikse kruisings in hul lewens.

    1. Amandaskrywer(Aduppie)

      18 April 2023 at 7:02 pm

      Ja dis kosbaar – wens net ek het Ouma meer uitgevra.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.