Hoevêr sal ’n ouer sy kind beskerm?
Rubriek
deur Amanda Spies du Plessis
Omtrent Rubrieke
Rubrieke is basies artikels waarin die skrywer sy of haar opinie met die lesers deel.
Tipes Rubrieke
- Komies
- Polities
- Aktueel
- Nostalgies
- Vakkundig
- Teetyd kuiers
Hoevêr sal ’n ouer sy kind beskerm?
Wanneer daardie hulpelose baba in sy Ma se arms lê voel sy net liefde. “Ek sal enige iets doen vir my kind!” Die baba bly nie altyd klein nie. Voor mens jou oë behoorlik uitvee is die baba groot en begin hy sy eie besluite neem – reg of verkeerd. Net so is daar ook gevolge vir die besluite wat hierdie liefling kinders neem.
“Parents can only give good advice or put them on the right paths, but the final forming of a person’s character lies in their own hands.” ― Anne Frank
Ouers gaan dikwels uit hulle pad uit om hulle kinders te help en te ondersteun en ongelukkig is dit nie altyd die beste vir die kind nie. Soms tree die ouers self krimineel op om hulle kinders uit die moeilikheid uit te kry – met rampspoedige gevolge.
Andrea Venter is wreed deur haar langtermyn vriend vermoor. Sy Ma het hom gehelp landuit vlug met ’n vervalste ID-dokument en Paspoort. Hy is 7 jaar later deur Interpol gevind in Brasilië en teruggebring Suid-Afrika toe waar hy verhoor, skuldig bevind en lewenslank tronk toe gestuur is. Sy Ma het basies alles in haar lewe verloor. Haar dogter en kleinkind het albei selfdood gepleeg en haar seun sit in die tronk.
“To sum up, I had been spoilt from a very young age.”
Bogenoemde was die woorde van die seun wie se Ma op 73 jaar tronk toe gestuur is nadat sy geld verduister het om haar enigste seun se weelderige leefstyl te finansier – R2.3 miljoen om presies te wees.. Sy was ’n pilaar in die gemeenskap en kerk met ’n goeie reputasie. Tydens die hofsaak het haar seun wat werkloos was en op 45 jaar by haar gebly het ontken dat hy druk op sy Ma uitgeoefen het om bedrog te pleeg. Hy het ’n vrou en kind onderhou en ’n BMW gery. Sy dogter was in ’n privaat skool.
Daar is ook ouers wat sterk staan in hulle waardes
So is daar die Ma wat self die Polisie gebel het nadat haar seun sy meisie vermoor het – en dit vir haar vertel het. Sy het nie ’n oomblik geweier om hom aan die gereg te oorhandig nie en het na haar naaste Polisiekantoor gegaan. Die Polisie het die vermoorde meisie se liggaam gevind nadat die jong man met sy Ma langs hom ’n volle bekentenis afgelê het. Hierdie Ma het nie net aan haarself en haar kind gedink nie, maar ook aan die meisie en haar familie.
Hoevêr sal ’n ouer gaan om sy kind beskerm?
Volgens Sielkundiges wat kenners is op hierdie veld van ouer en kind verhoudings is daar meer as net die liefde van ’n ouer vir ’n kind. Dit het baie te doen met die ouer se selfbeeld en vrees vir verwerping. Die ouer kan nie erken dat die kind verkeerde dinge gedoen het nie, want die vrees is daar dat die kind die ouer gaan verwerp en dit mag nie gebeur nie. Die ouer sal dan alles in sy of haar vermoë doen om die kind te beskerm. Selfs al beteken dit dat die ouer dan self krimineel optree.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you