Bak en brou saam met Ouma
Bak en brou saam met Ouma is een van my en my kleinkinders se gunsteling dinge om te doen. Dis ‘n gemors maar lekker. Hulle wil met alles help: Meel sif, klits en selfs die eiers oop breek. Die eiers oop breek is nie altyd ewe suksesvol nie met eierdoppe orals.Hulle mag wel nie met die stoof en oond werk nie – dit doen ek. Hierdie Ouma is so bietjie versigtig.
Kleinkinders
My kleinkinders is Martin (6) en sussie May (5) en hulle is twee baie besige kinders wat hou van dinge doen en veral om saam met Ouma Amanda in die kombuis te werskaf. Alhoewel hulle uiteenlopende persoonlikhede het, deel ek en hulle ‘n liefde vir die kombuis. Dis waar ons die meeste pret het.
So maak mens
Dit het begin by broodjies maak. Elkeen staan op ‘n stoel weerskante van die kombuis eiland. Ek gee dan vir elkeen ‘n bord met kaas, ham, smeer en brood. Elkeen kan dan self hulle brood maak soos hulle wil. Daar word heeltyd gepeusel terwyl die kaas gerasper word en die ham in blokkies of repe gesny word. So tussen die opstel van die brood word daar tussenin gehap en vingers deur die smeer getrek.
Kolwyntjies is net so ‘n pret aktiwiteit. Hulle hou veral daarvan om versiersuiker bo-op te smeer en dan word die vingers aanhoudend afgelek.
Elke Desember bak ons klein koekies en hulle meng die deeg (helfte in die mond) en druk die koekies met koekie drukkers uit. Dis ‘n kosbaarheid om te sien hoe hulle die koekies versier. Die vreugde en trots wanneer hulle skepsels uit die oond kom en die vuil gesiggies verskaf my oneindige plesier.
Bak en brou saam met Ouma is werklik ‘n pret aktiwiteit vir beide Ouma en kleinkinders. Die vuil en deurmekaar kombuis is niks vergeleke met al die pret wat ons het nie. Hierdie kleintyd dinge is wat onthou gaan word wanneer hulle groot is. Ek is dankbaar vir die klein dingetjies in die lewe. Tonne liefde.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you