Hoop in ‘n wanhopige stukkende wêreld
Hoop in ‘n wanhopige stukkende wêreld is wat almal van ons nodig het. Hoe maak ons sin van die sinnelose? Geloof, hoop, liefde. Hieronder is sommer net ‘n paar gedigte wat ek oor Hoop geskryf het
Hoop en wanhoop
Hoop gee jou ‘n rede om aan te gaan
weer op te staan en weer te probeer.
Sonder hoop is daar nie lewe nie, geen oorbegin , slegs wanhoop
Hoop is die bakpoeier in gebak
sonder bakpoeier kan ‘n koek nie rys nie.
En sonder hoop val jou lewe ook plat.
Hoop is die verskil tussen lewe en dood
‘n wanhopige mens sien geen doel in die lewe nie
Sonder hoop wag net die dood.
Hoop is altyd daar
selfs in die donker waneer jou oë gevul is met trane
Sit aan die lig en kyk op
Hoop is orals
Hoop is ‘n glimlag
‘n bemoedigende drukkie
Hoop is die sonneblom
wat sy kop na die son draai
Hoop is die uitreik na ander in nood
Hoop is gratis vir ryk en arm
Hoop is vir jou en my
Die pad in twee
Die pad van die lewe is ‘n hoofweg met twee bane
Die wanhoop baan en die baan van hoop
Elkeen van ons het ‘n keuse watter baan om te ry
Die baan van wanhoop eindig in ‘n doodloop straat
Die baan van hoop neem ons deur droeë woestyne
tot daar waar die fontein borrel van lewe
Resep vir hoop
Meng ‘n koppie sonstrale met twee koppies water
Voeg ‘n knippie sout, ‘n druppel suurlemoen en heuning by.
Stap uit onder die ster jasmyn en asem die vars lug in.
Kyk rondom jou en sien die skoenlappers, groet die man in die straat.
Lag baie en drink ‘n eetlepel hoop elke dag
Hoop is ‘n vier letter woord
Hoop is kort, dog kragtig
Dis maklik om te sê, soms moeilik om te sien
Hier te kort en daar te lank
Hoop is ‘n vier letter woord
Ek sien hoop in die glimlag van ‘n kind en die plooie van ‘n ouma.
Ek sien hoop in die warm sonstrale en die reën druppel op my neus
Ek sien hoop in die geel veldblom wat sy kop deur die grond druk.
Ek sien hoop in die drukkie van ‘n vriendin na ‘n hopelose dag.
Hou aan hoop
Hou aan lag
Hoop is vol krag
Hoop is ‘n vier letter woord
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you