Geloof is ‘n werkwoord
Geloof is ‘n werkwoord. Dis moeiliker om te glo in iets en iemand wat ons nie kan sien nie.
Soos baie van julle het ek ook groot geword in ‘n Christelike huis waar ons elke aand huis godsdiens gehou het en Sondae kerk toe gegaan het. Sondagskool bygewoon het.
‘n Kind se Geloof
Tydens my kinderjare was my geloof meestal in my Ma gevestig. Sy was ‘n enkelouer en ek het onwrikbaar in my Ma geglo om ons veilig te laat voel. My hele lewe het rondom my Ma gedra. Haar geloof het weer in God gelê.
Geloof in die weegskaal
Dit was eers nadat ek volwasse geword het dat ek geloof in ‘n ander lig begin sien het. Wel, aanvanklik was die lewe ‘n lied as ‘n jong getroude vrou met ‘n man en 2 kinders. Totdat my geliefde man en Pa van my kinders op 30 in ‘n motorongeluk oorlede is. Skielik was ek alleen en ‘n enkelouer. Finansies was ‘n uitdaging. Elke dag ‘n struikelblok. Stukkende goed. Hartseer kinders. Al wat ek gehad het om op te steun was God, die kerk en geloof. En ek het gedink ek verstaan Geloof totdat my geloof tot die uiterste getoets is.
Geloof is ‘n werkwoord
Niks het my voorberei op die moeilike tienerjare wat sou volg nie. Steeds ‘n enkelouer was my kinders se tienerjare stormagtig. Ek het gesukkel om kop bo water te hou en een dag toe ek nie meer kon nie en my geloof te min was het ‘n kerk vriendin my hande in hare geneem en vir my gebid. Sy het my geleer van bid en glo en dit het my lewe ten goede verander. Dit was ‘n geleidelike proses waarin ek soos Job dikwels gevra het hoekom ek? Talle kere het geval. Weer opgestaan. En beter anderkant uitgekom. Geloof is iets waaraan ek steeds daagliks werk. Die twyfel en negatiewe gedagtes probeer elke nou en dan om my geloof te ontspoor. Ek staan vas. Gepantser met die wapenrustig van God.
Hoe ervaar jy geloof? Deel dit met ons.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you