Hartenbos O Hartenbos

hartenbos o hartenbos

Hartenbos o hartenbos, kusdorp en vakansieplek en die onthou dorp uit my kinderdae. Elke jaar met my verjaarsdag op 6 Januarie het ons stiptelik aangemeld vir ons vakansie van sewe dae. My Ma het nie van die vol strande tydens Kersfees gehou nie en daarom het ons eers met my verjaarsdag met vakansie gegaan. Gewoonlik het ons in een van die rondawels tuisgegaan behalwe een jaar toe my Ma besluit het om avontuurlustig te wees. Ons het met vriende se tent gaan kamp naby die vermaaklikheid sentrum en naby die see. ‘n Oranje tent met twee vertrekke.

Dit was ons eerste tent vakansie

Ons het die besige vermaaklikheid sentrum baie geniet. Daar was ‘n rolskaatsbaan met tiener musiek wat kliphard oor die luidsprekers gespeel is. Die pad-pad baan het oud en jonk getrek. ‘n Verhitte swembad was tot laat saans oop en meestal benut deur mense wat gehou het van rustigheid terwyl die buite koue swembad gewemel het van kinders en ander jonges. Dan was daar ook die springmatte waar die jong manne die een toertjie na die ander uitgehaal het om die meisies te beïndruk. Meisies in bikini’s. Veldfliek. Danse met lewendige musiek. ‘n Water wurm het jou gedraai en geswaai en uitgespoeg in ‘n poel water. Draai roomys en sjokolade. Ons het aan alles deelgeneem en gebly tot toemaak tyd en dan huis toe gestap. Eintlik tent toe gestap. Net oorkant die pad. Hemels.

Die groot geraas

Dit het egter net ‘n paar dae geduur voordat my Ma gedaan was van al die geraas. Drie dae om presies te wees. Ons het nog gedink ons is weer oppad na die pretpark toe my Ma ons opkommandeer om te begin inpak. Ons gaan trek na stilte toe. Na ‘n staanplek langs die ouetehuis, Die tent is in sy geheel ontwortel en ons drie kinders en my Ma het elkeen ‘n hoek beetgekry en die straat afgestap tot groot vermaak van die mense langs die roete. Ek het gehoop niemand herken my nie en my sonhoed laag oor my kop getrek. By die nuwe stil staanplek het ons weer die tent gewortel. My Ma in ekstase en ons moes nou verder stap vir die vermaak en saans na die stilte en rustigheid van die ouetehuis terug keer waar my Ma gelukkig neurie waar sy in die son sit en lees, sonhoed op die kop, voete op ‘n kamp stoel. Ons het daarna steeds elke jaar Hartenbos toe gegaan. Net nooit weer gekamp met ‘n tent nie. Ma se kamp in ‘n tent het ‘n stille dood gesterf.

Hartenbos deur die jare

Jare later het ek weer Hartenbos besoek saam met my Man, kinders, My Ma en my jongste suster. Die vermaaklikheid sentrum was steeds daar net anders. Die rolskaatsbaan wat die uithangplek van jong verliefdes was en die wat gesmag het na ‘n vakansie romanse het plek gemaak vir ‘n dans saal. Die roomys stalletjie was nou deel van ‘n kafee. Die in en uitgang is verander en geskuif na ‘n ander kant. Die nuwe jongmense het oop maag toppies gedra en openlik gerook en gevry. Die onskuld was weg.

Die ontnugtering en nostalgie

In 2016 het Hartenbos ‘n hele transformasie ondergaan. Al die ou bekende vermaaklikheid plekke is platgeslaan. Selfs die waterwurm. ‘n Luukse nuwe vermaaklikheid sentrum is onthul. Dit vergelyk goed met Donald Trump se luukse Trump tower. Weelderig. Weg is die ou gemaklikheid waar ons soveel pret gehad het. Dinge is nie meer dieselfde nie. Duur parkering. Duur toegang kaartjies. Alles is van die hoogste kwaliteit. Weg is die eenvoud. Die enigste bekende gesig is die see. Jy hoef nie daarvoor te betaal nie. Jy kan steeds op die strand loop en in die see swem. Op dieselfde rots sit waar jy 30 jaar gelede ook gesit het.

Hartenbos O Hartenbos

Soms wonder ek of dit regtig nodig is om alles so weelderig te maak by die vakansie plekke. Nie almal wil in 5 ster luuksheid vakansie hou nie. Buitendien het ons in die eenvoud van die 1970’s groot pret gehad sonder al die luukshede van vandag. Miskien het ons nie van beter geweet nie of dalk is vandag se jongmense al hoe meer ingestel op materiële dinge. Ten minste kan niemand die see oordoen en luuks maak nie. Dit is die een ding waaroor ek dankbaar is. Dit en die rots waarop ek 30 jaar gelede gesit het.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.