Glimlag
Glimlag
Teetyd kuiers is ‘n maandelikse gesels rubriek geskryf deur Amanda Spies du Plessis
Teetyd kuiers met Amanda
Glimlag vir almal in jou lewe sing Ge Korsten op die radio terwyl ek besig is om huis skoon te maak. Ek het dit so lanklaas gehoor en sit die radio harder. “Gaan strooi ’n bietjie liefde en geluk”. Sulke pragtige lirieke wat hierdie Afrikaanse ikoon in my sitkamer sing.
My oggend Bybel stuk het juis oor die uitdeel van ’n glimlag gegaan en hoe dit ’n verskil in iemand se lewe kan maak. Ek het al gesien hoe iemand se gesig verhelder wanneer ek hom of haar met ’n glimlag groet en ’n vriendelike opmerking maak. Dieselfde gebeur met my wanneer iemand vriendelik is teenoor my.
My kleinkinders blom behoorlik wanneer ek hulle prys oor goeie gedrag en vir hulle glimlag. My kleindogter het een keer haar arms om my gesit en met haar vreugdevolle gesig teen myne vir my gesê: Ouma jy is my hele hart. Die mooiste liefdevolste woorde. Ek kry sommer weer trane in my oë.
Dis asof die son deur ’n wolk breek wanneer ‘n vreugdevolle gesig voor jou stelling inneem. Die kassier in die winkel wat ’n lang skof werk terwyl haar kind siek is kry sommer nuwe krag, genade en energie en haar eens stroewe gesig verhelder. Die skoonmaker wat dag na dag skoonmaak en ook die Ma wat na almal tuis omsien. Pa wat werk om die pot aan die kook te hou.
Glimlag wees vrolik in jou lewe, wat jy vir ander doen bring blydskap en geluk
Elkeen het vreugde nodig. Daar en dan besluit ek om ’n wilsbesluit te maak om vreugde te versprei. Selfs my plante sien ’n vrolike gesig en ek gesels met die voëltjies in die bome al kwetter hulle reeds vrolik daarbo – dalk is daar ene wat ’n vriendelike gesig nodig het. Ek stuur toe ook sommer die video aan vir my susters en geniet dit om te sien hoe ook hulle vreugde uit die lied kry. Ek stuur dit ook vir jou wat hier lees. Glimlag vir almal in jou lewe.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you