Onopgeloste raaisels van Suid Afrika

articles

Onopgeloste raaisels van Suid Afrika

Onopgeloste raaisels van Suid Afrika is daar baie van. My Ouma het altyd gesê die waarheid kom altyd uit en daar is geen ding soos ’n perfekte misdaad nie. Alhoewel sy nie van raaisels gepraat het nie is ek nie altyd so seker dat alle dinge geopenbaar sal word nie – in elk geval nie in dieselfde tydperk wat die voorval gebeur het nie.

Onopgeloste raaisels van die laaste 50 jaar

Die 6 vermiste meisies van die jare 80’s is steeds nie opgelos nie. Ons weet dat Joey Haarhof en Gert van Rooyen vir hulle verdwyning verantwoordelik was. Wat egter van die meisies geword het, is steeds ’n raaisel. Die huis waarin die misdade gepleeg is, is destyds deur Absa bank tot op die grond afgebreek en daar was geen teken dat hulle in die huis of tuin begrawe is nie.

Robert Smit was ’n lid van die Parlement toe hy en sy vrou Jean-Cora Smit wreed in hulle huis in Springs vermoor is in 1977. Niemand is ooit aangekeer vir hulle moorde nie en die motief vir die moorde is steeds onbekend. Daar is heelwat gissings soos dat hulle vermoor is omdat Robert die fluitjie wou blaas oor hooggeplaastes se oorsese bankrekenings, korrupsie en dat hulle deur die veiligheidspolisie vermoor is.

SAL Helderberg vliegtuig het in 1987 in die see gestort en steeds is daar tergende vrae oor wat werklik gebeur het. ’n Brand het ontstaan en daar is bewerings van plofstof wat in die vragruim vervoer was. Die regering van die tyd het egter ontken dat hulle verantwoordelik was daarvoor en tog is daar steeds mense wat hardnekkig volhou dat daar onwettigheid betrokke was en dat onskuldige mense met hulle lewens betaal het as gevolg van die regering.

Onopgeloste raaisels ouer as 50 jaar

Die Kruger miljoene is steeds op soek na meer as 100 jaar – dis nou indien daar waarheid insteek. In 1900 is daar blykbaar goue stawe in die Laeveld versteek wat later opgegrawe sou word. Die storie is in die loop van die jare deur menigte oorvertel met ’n ekstra stertjie aangelas. Nodeloos om te sê is die Kruger miljoene nog nooit gevind nie.

Die S.S. Waratah ’n Australiese passasiersboot het die Durbanse hawe verlaat met 211 passasiers en bemanning op 28 Julie 1909 op pad na Kaapstad. Die boot het egter nooit sy bestemming bereik nie. Geen teken is ooit van die boot gevind nie en dit is steeds ’n raaisel wat gebeur het met die boot, sy bemanning en passasiers.

2 Comments

  1. scrapydo2.wordpress.com

    31 July 2023 at 9:48 am

    Ek onthou van die eerste gebeurtenisse en geen oplossings nie. Baie interessante raaisels wat steeds nie opgelos is nie.

    1. Amandaskrywer(Aduppie)

      2 August 2023 at 12:22 pm

      Ja dit laat mens nogals wonder

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.