Naguil koerant 6 van 2023

naguil koerant

Die Naguil koerant is ‘n aanlyn koerant wat weekliks op die webblad verskyn. Kliek op die blou skakel in die storie en dit sal jou neem na die oorspronklike storie.

Van die Redaktrise

Goeie dag aan al my lesers
Soos julle seker al agtergekom het teen hierdie tyd hou ek van kook en bak en onlangs soek ek op Showmax na iets om te kyk en vind Kokkedoor. Ek het eers onlangs aangesluit by die aanlyn stroming kanaal en het ook nie DSTV nie dus is daar baie nuwe goed vir my om na te kyk. Kokkedoor het my aandag getrek en daar bevind ek my toe met hierdie lekker kook program en dit in Afrikaans. Ek dink nou nie ek sal myself begeef in so iets nie – te veel druk. Dis net lekker om na te kyk al is dit jare terug se episodes!

Tussendeur is ek warm swembad toe met my kleinkinders vir ’n laaste pret sessie voor die skole weer begin en daar bevind ek my in die winter saam met die kleintjies in die waterwurm met koue water. Ek het nie gedink dit sou oop wees in die winter nie en die kinders se ogies het dadelik gesien die waterpark is oop. Ons was die enigste mense daar wat dapper genoeg was om die koue water aan te durf en agterna roomys te eet. Die kinders het die dag ’n 10 uit 10 gegee.

In hierdie maand se koerant kan julle lees van ’n sendeling in Oekraïne, ’n reuse vlermuis, ’n klein video biblioteek en ’n ongewone boek bekendstelling.

Geniet Naguil koerant 6 van 2023 en die laaste deel van hierdie koue winter. Die eerste lentebloeisels begin reeds verskyn.
Amanda

Skrywer kollig

“Ek het nog nooit gaan sit en dink nou moet ek ’n boek skryf nie. Dinge dring hulle aan my op. Dinge wat gedoen moet word en gesê wil wees en wat my hinder en by my bly spook totdat ek dit aanpak en afhandel.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

Alba Bouwer is tydens ’n donderstorm op ’n plaas in die Vrystaat gebore. Prematuur met ’n welluidende stem. Na skool het sy haarself bekwaam as onderwyseres en later as joernalis begin werk waar sy vir Audrey Blignaut ontmoet het. Hulle vriendskap het lewenslank geduur. Na ’n kortstondige eerste huwelik is sy toe met haar 2de man Jan Hofmeyer van Riversdal getroud en uit die mooi wit huis op die kop in Riversdal het vele boeke van haar die lig gesien.

My Ouma het in die straat onderkant haar huis gewoon en wanneer ons gaan kuier het, het ek saam met Ouma gaan stap en vir Tannie Alba gaan groet. Sy was die vriendelikste mens, onopgesmuk en lief vir kinders. Ek het vele tuisgebakte koekies by haar gekry.

“Ek is baie lief vir mense, maar veral vir kinders. ’n Kind se blindings is nog so oop. Hoe ouer ’n mens word, hoe meer trek jy die blindings rondom jou toe sodat ander nie kan sien wat binne-in jou aangaan nie.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

Ou boek kollig

Baby Micaela deur Anne Maggs en Debora Patta.

Ek pak my boekrakke reg en kyk af op die pragtige krulkopdogtertjie met die mooiste blou oë – Micaela Hunter wat 2 jaar vantevore so wreed van haar ouers Bruce en Allison Hunter gesteel is net na haar geboorte. Sy is op 3 Mei 1994 gesteel deur Sonia Combrink. Haar kerel Charles MacDonnald het die baba grootgemaak. Minder as 2 jaar later het Sonia die baba by Charles gelos en saam met ’n nuwe kerel weggegaan.

Charles wou die baba wettiglik aanneem aangesien enkellopende pa’s nie in daardie stadium regte gehad het nie. Tydens die aannemings proses het dit duidelik geword dat Sonia die baba gesteel het en dat Charles nie die baba se Pa was nie.

Charles se wêreld het in duie gestort toe DNA bo alle twyfel bewys het dat die baba die vermiste Micaela Hunter was. Sy is kort voor Moedersdag 1996 aan haar ouers terug besorg. Die Hunter egpaar het hulle gesin kort daarna uit die kollig onttrek. ’n Merkwaardige ware verhaal.

Stories oor plekke en sy mense

  • Terwyl meeste video winkels reeds hulle deure toegemaak het, het ’n gestremde man besluit om ’n piepklein ene oop te maak kompleet met video’s, DVD’s en selfs rekenaar speletjies en dis alles verniet. Hy put genot dááruit om te sien hoe mense die dinge uit die verlede geniet.
  • ’n 90 jarige oompie van Amerika is die oudste liggaamsbouer in die wêreld en kan ’n jongmens laat skaam kry.
  • In Frankryk kan jy swaar beboet word indien jou hond sy ding op straat doen en jy dit nie optel nie. Moenie dink hulle sal nie weet dis jou woef nie – DNA toetse wys wie die skuldiges is.
  • ’n Foto van ’n reuse vlermuis in die Fillipyne gee mense die ritteltits. Dit het my laat dink aan my ontmoeting met ’n vlermuis.
  • Gordonsbaai spog met ’n speelgoed biblioteek waar kinders speelgoed vir 2 weke lank kan gebruik. Wat ’n wonderlike konsep!

Nuwe boek kollig

Die nuwe boek kollig val hierdie maand op ’n besonderse kinderboek. My eerste wilde eiland-avontuur deur Riaan Manser is onlangs binne-in ’n akwarium bekend gestel. Riaan is ’n avonturier met verskeie avonture onder sy belt waaronder sy Madagaskar avontuur wat aan hom ’n wêreldrekord verseker het. Hierdie avonturier het om die eiland met ’n kajak gevaar – op sy eie. Dit het hom 11 maande geneem.
Sy boek vertel van sy eiland avontuur.

Skrywer sake

SA vryskutskrywer het goeie wenke vir skrywers oor alles en nog wat rakende skryf.

Video kollig

Aanneming is ’n persoonlike en emosionele besluit. Hierdie video wys die vreugde en emosies. Hartroerend. Selfs die van ons wat geen ondervinding het van aanneming nie sal ’n traan wegpink

Grapjas

Hoekom verf die blond haar huis met twee jasse aan?
Die blik verf sê : “two coats.”  

Musiek kollig

Nicholis Louw se lied Net ’n mens verdien om geluister te word. Hy staan nou nie juis bekend as ’n ballade sanger nie. Hierdie lied is egter besonders met lirieke soos hierdie:

Keer op keer vind ek myself in storms waardeur ek
My pad moet vind
En keer op keer is jy die een wat antwoord uit die donker
Dan maak als sin
En elke keer as jy probeer om sterk te wees en trane weg te vee weet ek
Daar’s rede vir die storms ons kan saam die winters deurmaak
Net jy en ek

Inspirasie

Michelle Potgieter en haar man het as pasgetroudes na die Oekraïne gegaan om sendingwerk te gaan doen. Hulle het in Reni beland – ’n deel van Oekraïne waar daar baie armoede was. Hulle het ’n kerk gestig en die mense begin ophef vir 27 jaar lank.  Ockert is oorlede aan COVID terwyl hulle op ’n besoek in Suid-Afrika was. Sy het besluit om terug te keer na Reni en 2 weke na haar aankoms het die oorlog uitgebreek.  Haar boek Sonneblomme en sneeu is pas bekend gestel. ’n Merkwaardige boek en lewe.

Diere sake

’n Pappegaai wat Spaans praat. Dit is net te kostelik en die liefde tussen die papegaai en sy mens familie en veral die seun in die gesin is so mooi. Geniet dit.

Bybel vers

PSALMS 8:3 (AFR83)

Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.

Vinnige Resep

Gestoomde appels met vla

Warm poedings is net die ding vir ’n koue winteraand – vinnig maklik en smaaklik.

2 appels opgesny in kwarte
Bruinsuiker na smaak
Kaneel na smaak

Gooi alles saam in ’n mikrogolf bak
Meng goed.
Mikrogolf vir 2 minute op hoog.
Haal uit en laat staan buite vir nog 1-2 minute
Bedien warm met vla

Dankie vir die saam kuier. Terugvoer en versoeke word verwelkom. Tot volgende keer.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.