Die somer is in volle swang

Die somer is in volle swang

Die somer is in volle swang en die winter lankal vergete. In die tuinroete kry ons soms vier seisoene in een dag. Hierdie weer is egter in ‘n klas van sy eie. Dit is warm in die oggend, middag en aand. Dit bly bloedig warm en ons is nie daaraan gewoond nie.

Londen weer

In 1994 het ek van ‘n ander warm plek Kimberley getrek na die tuinroete. Elke aand het ‘n sagte reën uitgesak en was die aande selfs in die somer koel. Ek het altyd gespot dat ons in Londen bly waar die weer ook gematig is met meer koel weer as warm weer. Die afgelope 5 jaar of so het die weer beslis in die Tuinroete verander. Weg is elke aand se reën. So ook die koel somers.

Die somer is in volle swang

Hierdie jaar veral het die weer blitsvinnig verander van koel gematigde dae en koue aande na vuurwarm bedags en saans. My waaiers waai heeltyd terwyl my hond Millie elke koel hoekie in die huis opsoek. Volgens die slim mense gaan hierdie jaar se weer rekord getalle oplewer. Dit sal my nie verbaas nie. Nou die dag het ek die kleintjies by die skool gaan haal en ek vra heel onskuldig vir my kleindogter of sy ‘n lekker dag gehad het. Sy draai heel verontwaardig na my en laat so ewe hoor: “No Ouma, I’m boiling hot”. Uit die mond van my 5 jarige kleindogter.

Son en See

Die strande is natuurlik oorvol met son aanbidders wat in die son en see baljaar. Al betaal jy my is daar nie ‘n manier wat ek nou op die strand en in die son wil wees nie.

Ek trotseer eerder die hitte deur binneshuis te bly tussen 08:00 en 18:00 My deure en vensters hou ek toe sodat die hitte kan buite bly. Saans na 18:00 maak ek my plante nat en berei kos voor.

Hoe hanteer julle die hitte?

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.