Die lewe is vol veranderings
Die lewe is vol veranderings en as ons nie byhou en aanpas en saam met die stroom swem nie gaan ons vasval en uitval.
Dit het my jare geneem voordat ek geleer het om die onverwagte te aanvaar. Verandering was voorheen skrikwekkend en ek sou in ‘n strespop verander sodra dinge om my begin verander het. Mens voel mos veilig in die bekende dinge en omgewing.
Die gloeilamp oomblik
Ongeveer 10 jaar gelede was ek gekonfronteer met groot veranderings in my werk en persoonlike lewe. Die koue sweet het my beetgekry. Hoekom moet dinge alewig verander? Die bekende is ‘n veilige plek. Een aand het ek op die Internet die vraag gevra oor hoe mens oor jou vrees vir verandering kom. Een van die antwoorde het uitgestaan bo die res. Die persoon het ‘n boek aanbeveel wat aanvanklik geskryf is om mense in werksverband te help om saam met verandering te lewe. Die boek het egter ‘n blitsverkoper geword en word nou vir almal aanbeveel. Die boek se naam is Who moved my cheese geskryf deur Spencer Johnson
Wie het my kaas geskuif?
Bogenoemde is die Afrikaanse titel van die boek. Die boek is in vele tale beskikbaar en vinnig en maklik om te lees. Hierdie kosbare klein boek het my lewe verander. Ten goede. Praat van dinamiet in klein pakkies. Die boek handel oor verandering en hoe om daarmee saam te leef. Dit word deur middel van ‘n eenvoudige storie oorgedra wat almal kan verstaan en by aanklank kan vind.
Die lewe is vol veranderings
Nadat ek die boek gelees het, het my uitkyk op die lewe en die gedurige verandering wat ons gereeld ervaar verander. Dit is nie meer angswekkend of iets wat ek probeer vermy nie. Deesdae verwelkom ek selfs veranderings. Dit hou die lewe interessant en opwindend. Veranderings bou karakter en verbreed mens se lewens uitkyk.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you