Dronk bestuurders se regte

Dronk bestuurders se regte

Dronk bestuurders se regte kan nie opgeweeg word teenoor die slagoffers se regte nie. Hulle selfsugtige optrede verwoes lewens.

Dis persoonlik

Ek was net 5 jaar oud toe ‘n dronk bestuurder die oorsaak was van my Pa se dood. Hy het reg van voor teen my Pa gebots. My Pa is op slag dood en ‘n jong man van 19 jaar was vir 20 jaar lank in ‘n koma voordat hy gesterf het – sonder om ooit sy bewussyn te herwin. Die dronk bestuurder het ‘n 6 maande vonnis gekry vir strafbare manslag – opgeskort vir 1 jaar. In 1970 was dronk ‘n versagtende omstandigheid wat beteken het dat sy vonnis so lig was. Daardie wet is gedeeltelik verander later van jare alhoewel daar steeds te veel mense is wat weg kom met te ligte strawwe.

Dronk bestuurders

Alhoewel die wette verander het sedert 1970 is dit steeds skokkend lig. Iemand wat dronk bestuur en die oorsaak is van iemand se dood kan 10 jaar tronkstaf opgelê word en /of’n maksimum boete van R180 000. Onlangs het ‘n man in die hof gestaan en huil oor hy vir 2 jaar moes tronk toe gaan weens dronk bestuur. Sy verweer was dat hy ‘n Pa van 2 kinders is en dat hy ‘n goeie werker is – en ‘n goeie mens wat net ‘n fout gemaak het.

‘n Fout?

Dit is nie ‘n fout wanneer jy drink en bestuur en daardeur die oorsaak is van iemand se dood nie. ‘n Fout is wanneer jy 2+2 bymekaar tel en 5 kry. Wanneer jy egter drink en agter die stuurwiel van ‘n motor inklim is dit ‘n doelbewuste besluit wat jy neem. Dit is nie ‘n fout nie, dit is opsetlik.

Die slagoffer het nie ‘n fout gemaak deur te sterf nie, hy het sy lewe verloor deur die selfsugtige optrede van ‘n ander.

Dronk bestuurders se regte kan nie opgeweeg word teenoor die slagoffers se regte nie.

Die slagoffers en hulle families verdien beter en die dronk bestuurders behoort swaarder gestraf te word.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.