Dit maak my so kwaad
Dit maak my so kwaad ek kan slange vang of iets dergeliks, Soms moet ek diep asem haal en myself eers bymekaar maak en my waardigheid behou. Ons ken almal daardie gevoel. Ek is oor die algemeen iemand met goeie selfbeheersing wat nie sommer kwaad raak nie. Gematig. Sien altyd die ander kant in. Probeer ten minste. Soms moet selfs ek op my tong byt om nie kwetsende dinge kwyt te raak nie.
Meer as net kwaad word
In een van my artikels Dit dryf my teen die mure uit, het ek bietjie gesels oor dinge wat my die harnas in jaag soos onbedagsaamheid, mense wat nie respek het vir hulleself en ander nie. O ja en vriendinne wat dink dat persoonlike grense nie vir hulle geld nie. Diep asem haal.
Dit maak my so kwaad
- wanneer mense ander beledig sonder dat hulle die ander persoon werklik ken
- om te sien hoe mense diere en kinders mishandel
- wanneer volwasse kinders hulle ouers uitbuit, misken, verskree
- die planeet aarde wat verwoes word deur mense wat nie ‘n duit omgee nie
- wanneer godsdiens gebruik word om ander te manipuleer en te verkul – in die naam van God
- die besigheidsmense wat willens en wetens mense verneuk om hulle eie sakke te vul
- wanneer politici wat in beheer is, geld steel wat bedoel was om ons land te verbeter
Geen geweld
Dit is waar dat ek briesend raak in my persoonlike hoedanigheid. Tog is ek ‘n besadigde mens wat oor die algemeen nie uiting gee aan my gevoelens nie. Mense het al dikwels gevra of ek nooit kwaad word nie. Glo my ek doen. Dis net dat ek nie gewelddadig raak en verbaal gal braak nie. Dis meer ‘n stille revolusie wat aan die binnekant woed.
Haal diep asem
So gou die wrewel in my opwel, so gou koel dinge weer af. Tuinwerk is ‘n goeie uitlaatklep. So ook musiek. Selfs kos maak. En skryf. Woorde op papier. Drink tee. Haal diep asem.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you