Ek kan nie
Ek kan nie, dis te groot vir my. Ek sal dit nooit reg kry nie.
Verkeerd
Hoe eet jy ‘n olifant? Stukkie vir stukkie. En dis net mooi hoe mens die sogenaamde onmoontlike regkry. Soms lyk iets onhaalbaar en selfs onmoontlik, tog wanneer mens begin, kom jy agter dit wat jy as onmoontlik gesien het is inderdaad heel moontlik wanneer jy dit stukkie vir stukkie aanpak.
Ek het ook gereeld gesê Ek kan nie
Ek is die middelste kind van 3 meisiekinders en het by voorbaat verskoning gemaak indien iets vir my te groot en onmoontlik voorgekom het soos om ‘n fiets se pap band reg te maak. (ons was net 3 dogters en my Ma in ons gesin dus moes ons alles self doen). Miskien was ek net bang dat ek dit nie so goed soos my Ma en susters sou kon doen nie.
My eggenoot – die raakvatter
Na my troue op die teer ouderdom van 20 jaar oud, het ek nie eers nodig gehad om eers te probeer nie want hy was daar en hy kon enige iets doen
Veilige hawe
Tydens my kinderjare en tydperk as getroude vrou het ek wel binne my veilige plek dinge probeer. Ek het egter net genoeg gedoen om nie uit my veilige plek te beweeg nie alhoewel ek altyd gevoel het, ek dink ek kan meer waag en doen.
‘n Motorongeluk verander dinge
My man is in ‘n motorongeluk oorlede toe ek 28 jaar oud was. Skielik moes ek dinge doen waarvoor ek voorheen nie kans gesien het nie en nie nodig gehad het om te probeer nie.. Ek was bang en soms het ek gewaag, terug getree en weer bietjie gewaag. Dinge het egter met die jare versleg en ek het op een plek stagneer totdat ek nie meer kon saamleef met my huis wat besig was om uitmekaar te val weens onderhoud probleme nie. Ek het nie die geld gehad om te betaal vir onderhoud nie.
‘n Oorwinning
In 2012 het ek die eerste stap geneem. Ek het die eerste kamer geneem. Die eerste dag het ek ingestap, die skade bekyk en netso weer uitgestap. Die taak voor my het net te groot gelyk. “Ek kan nie” het ek vir myself gesê en in ‘n hoekie gesit en huil. Vyf dae later het ek weer ingestap en besluit om alles neer te skryf wat gedoen moes word. Ek het begin lysies maak met datums en vir myself ‘n daaglikse, weeklikse en maandelikse doel gestel. Skielik het dinge moontlik gelyk en met elke dag se werk kon ek die vordering sien. Die eerste kamer het my 3 maande geneem om te voltooi. My selfvertroue het toegeneem.
Ek het die olifant verorber
In 2020 het ek die laaste projek in my huis voltooi. Ek het boekrakke gemaak en dit in my sitkamer ingebou. Elke voltooide kamer / projek het my aangespoor om meer te doen, nuwe dinge aan te leer soos om ingeboude kaste self van onder af te doen, nuwe teëls in my kombuis te lê en die oues self uit gekap. Dit het my lank geneem om alles te voltooi, maar ek het alles self gedoen en moes leer hoe alles gedoen word. YouTube was ‘n goeie leermeester. Ek het dit net reggekry deur elke projek in dele op te breek en nie in geheel daarna te kyk nie.
Vertel gerus vir my hoe jy jou olifant opgeëet het.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you