Dit raak my nie
Dit raak my nie, so hoekom moet ek omgee oor ander?
Dit hoor ons deesdae al hoe meer vandat die coronavirus hom in ons lewens kom tuis maak het. Die anti masker brigade voel die dra van maskers neem hulle vryheid van keuse en beweging weg. Dit traak hulle min dat ek my masker dra om jou te beskerm en jy jou masker om my te beskerm. So kan ek voortduur oor al die verskonings rakende COVID 19.
Dis egter nie waar die selfsug stop nie. So ‘n jaar of twee gelede was ek saam met ‘n vriendin by ons plaaslike provinsiale hospitaal waar mense op stoele sit en wag. Hulle word geklassifiseer volgens die erns van hulle siekte of beserings. Almal wag geduldig hulle beurt af.
Die bedorwe brokkie
Skielik maak ‘n jong blonde meisie haar verskyning terwyl sy luidkeels protes aanteken oor die “onbevoegde” dokters in die hospitaal. Sy eis om dadelik gehelp te word deur ‘n “ordentlike gekwalifiseerde” dokter en dit moet onmiddellik gebeur. Daar is aan haar verduidelik dat al die dokters gekwalifiseerd is en dat almal hulle beurt moet afwag. Sy weier volstrek en gooi ‘n hengse vloermoer. Vir die rekord was haar klassifikasie die laagste groep op die lys. Sy het geensins omgegee dat daar mense met ernstige beserings in die vertrek was nie.
Die gestremde
‘n Ander keer het ‘n gestremde gesukkel om by die trappe by ‘n besigheid in te gaan toe 2 mans moeg raak vir sy gesukkel en sy rystoel uit die pad lig en doodluiters voor hom indruk. Hulle verweer was dat dit nie hulle probleem is dat hy gestrem is nie en hulle is haastig.
Die ander kant
Empatie en simpatie is deesdae al hoe minder te sien. Iets wat my egter altyd sal bybly is die dag toe ek met my motor langs die pad gaan staan het. Ek en my dogter was alleen in die half skemer. ‘n Vragmotor het langs ons gestop. Die bestuurder, ‘n Swart man, het gehelp om ons terug op die pad te kry en agter ons aangery tot by ons bestemming en seker gemaak ons is veilig voordat hy weer die langpad aangedurf het. Dis iets wat ek nooit sal vergeet nie.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you