Die virus maskerade

Die virus maskerade is wreed. Die tol wat COVID 19 op mense en hulle verhoudings geneem het is onmenslik. Die afsterwe van Theuns Jordaan het dit weereens bevestig. Juanita du Plessis het in haar huldeblyk hartseer vertel hoe meeste mense nie vir Theuns kon besoek het nie as gevolg van die virus. Hy is nie die eerste en enigste mens wat hierdeur moes gaan nie en ook nie die laaste nie.
Ja ek weet
Dit is so dat die virus dood en verwoesting saai en dat kwesbare mense beskerm moet word teen moontlike besmetters (dit klink so erg om mense so te noem) wat die persoon se dood kan beteken. Die virus is wreed en tref nie onderskeid tussen ryk en arm nie. COVID 19 raak sommige mense meer as ander. Twee jaar lank vertel die virus al vir ons hoe ons moet lewe en dit help nie dat ESKOM ook nog inmeng nie.
Terug na normaal
Hoe lyk normaal nou weer? Een ding is seker. Normaal gaan nooit weer dieselfde lyk nie. My kleinseun (6) dra getrou elke dag sy masker skool toe. Hy mor en kla nie meer daaroor nie. Hy het sy lot aanvaar. Vir hom is masker dra normaal. Ek neem hom en sy sussie (5) nou die dag parkie toe en toe ek my sleutels optel om by die deur uit te gaan sê hy so ewe vir my “Ouma onthou jou masker”. Ek het maskers in my motor, in my handsak, in my huis en selfs in my tuinhuisie alhoewel dit eintlik vir sement is. Ek maak mos my eie sement potte maar dis ‘n gesprek vir ‘n ander keer.
Maskers
Ek en maskers ken mekaar al lank van voor die virus se dae af. Dis net dat hierdie tipe maskers nie my gunsteling mode item is nie. Ek hou van fantasie maskers. Hopenlik in die nabye toekoms kan ek my virus masker verruil vir ‘n mooi gesigmasker en weer ‘n regte maskerbal bywoon.
Terug na COVID
Sterkte vir almal in hierdie onseker tye. Hou moed, doen en dink positiewe dinge en bemoedig mekaar.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you