Die dag van die liefde

Die dag van die liefde

Die dag van die liefde op 14 Februarie is spesiaal in my en my kinders se lewens. Eensaam en alleen het ek ‘n plan gemaak en na my man se skielike dood in 1993 vier ek Valentynsdag op ‘n spesiale manier.

Alleen op Valentynsdag

Na my man se dood was my eerste valentynsdag sonder hom alleen en eensaam. Dit was aaklig om die liefde rondom my te sien terwyl ek niemand aan my sy gehad het nie. Ek het my kinders na die Spur toe gevat op ons 1ste valentyns dag alleen en daardie aand is blomme en sjokolade in die gange van die restaurant verkoop. Ek en my kinders het verskrik by ‘n tafel gesit en toe roep ek die kelner nader en koop vir elkeen van my kinders ‘n roos en ‘n sjokolade. En net daar het ‘n nuwe tradisie begin.

Die dag van die liefde

Elke jaar daarna het ek moeite gedoen op die 14de Februarie. Ons het nie weer na ‘n restaurant gegaan op hierdie spesiale dag nie. Ek het my tafel spesiaal gedek met rooi en wit bykomstighede en vir my twee dogters elkeen ‘n sjokolade en ‘n klein geskenkie gekoop. Daarby saam het ek briewe vir elke kind geskryf en hulle vertel hoe lief ek hulle het en hoe spesiaal hulle is vir my.

Die vreugde en liefde hou aan en aan

Elke jaar het ek dinge anders probeer doen. Die een jaar het ek vir hulle elkeen ‘n fiets gegee. ‘n Ander keer het ek ‘n fliek aand gedoen met ‘n mooi familie fliek en springmielies en sjokolade – natuurlik. Ek het volgehou met hierdie spesiale Valentyns dae totdat hulle die huis verlaat het. Nou is hulle groot met hulle eie gesinne. Hopenlik sal dit iets wees wat hulle sal onthou en sal koester in die jare wat kom. Deesdae bederf ek my 2 kleinkinders op dieselfde manier. Die dag van die liefde op 14 Februarie is nie net vir paartjies nie dis vir enige een wat die liefde wil vier. Mag hierdie Valentynsdag ook vir jou spesiaal wees.

En nou bly geloof, hoop, liefde — hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde. 1 Kor 13:13

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.