‘n Lewe vol sinne – biografie
‘n Lewe vol sinne is die biografie van die skrywer Jeanne Goosen. Die boek is geskryf deur Petrovna Metelerkamp.
Ek het hierdie boek in ‘n 2de handse boekwinkel in Stilbaai gekoop. Tot my skande het ek nog nooit een van Jeanne Goosen se boeke van hoek tot kant gelees nie alhoewel ek al baie uittreksels van haar werke gelees het. Ek wou meer van Jeanne te wete kom nadat verskeie koerant en tydskrif artikels my aandag geprikkel het.
‘n Lewe vol sinne
Hierdie boek neem die leser tot diep binne Jeanne se lewe en laat jou met tye skaterlag en ander kere kan jy net jou kop skud vir al Jeanne se manewales. Volgens Jeanne self is sy deur gypsies grootgemaak of dalk deur haar Ma en Pa. Telkens, net soos jy dink nou verstaan jy vir Jeanne die mens en skrywer kom daar weer iets anders na vore. Mens weet nie altyd wat is waarheid en wat nie en soms kry jy die idee Jeanne weet self ook nie. Daar is egter ook baie feite soos die verskillende boeke wat sy deur haar loopbaan geskryf het waarvan Ons is nie almal so nie uitstaan. Verskeie van haar vriende en kollegas vertel ook hoe hulle vir Jeanne as skrywer en mens ervaar het.
Petrovna Metelerkamp
Volgens Petrovna wou sy die boek skryf soos wat Jeanne gepraat en geleef het en sy het dit volgens my uitstekend reggekry. Sy het Jeanne se hart geken en was ook ‘n goeie vriendin van die skrywer. Kyk hierdie video waar Petrovna en Sandra Prinsloo oor die boek en Jeanne gesels.
My opinie
Dit was ook die eerste keer wat ek ‘n boek van Petrovna Metelerkamp gelees het en ek het dit baie geniet. Ek dink sy het Jeanne tot haar reg laat kom in die boek. Nadat ek die laaste bladsy gelees het, het dit vir my gevoel of ek vir Jeanne al jare ken en of ek en Petrovna saam ‘n koppie tee drink en gesels oor Jeanne.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you