Corona dagboek week 7

corona week 7

Corona dagboek week 7: Sondag 26 April 2020 tot Saterdag 2 Mei 2020

Sondag 26 April 2020

S.A. Infeksies: 4546 Sterftes: 87

Ek het vandag ‘n nuwe resep uitgetoets vir my varktjop middagete. Dit word stadig in krummels gaargemaak en bedien met ‘n griekse yoghurt sous. Heerlik! My ma klink bietjie af. Dit lyk my die inperking begin nou aan haar vat. Ek voel so magteloos. Gebed , geloof en liefde en natuurlik hoop is wat ons hierdeur sal dra.

DANKBAAR

  • Geloof, hoop en liefde
  • Genoeg kos om te eet
  • Skoon water

Maandag 27 April 2020

S.A. Infeksies: 4793 Sterftes: 90

Die dag het heerlike reënweer gebring. Ek is mal oor die reën, ons kry ongelukkig net te min daarvan. Ek het die dag optimaal benut deur ‘n papier oorlog te voer met my honderde resepte wat op los stukkies papier neergeskryf is, uit tydskrifte geskeur is en klein produk resepte boekies. Glo my dit is geen maklike taak nie en gaan my seker nog ‘n goeie dag of twee besig hou voordat ek die oorlog kan wen.

DANKBAAR

  • Reën lieflike reën
  • Cream cracker met kaas saam met my laaste koppie tee vir die dag
  • Heuning

Dinsdag 28 April 2020

S.A. Infeksies: 4996 Sterftes: 93

Vandag het vrolik begin met Expresso show op SABC3 wat soos gewoonlik opbouende, ligte vermaak verskaf het vir vroegoggend. Daarna het ek voortgegaan met my selfopgelegde papier oorlog en teen 6 uur vanaand het ek die lig begin sien. Daar is soveel nuwe geure en smake wat wag om ontwikkel te word.

My Ma kry whattsup

Ja, dis nou tyd vir Ouma om whattsup baas te raak sodat ons vir haar kan begin foto’s en videos stuur. My oudste suster het vir haar ‘n ou tablet uitgekrap en met een van die ou mensies in die ouetehuis gereël om my Ma touwys te maak. Blykbaar is die Tannie heel goed met die nuwerwetse tegnologie.

DANKBAAR

  • Expresso show wat die dag op ‘n goeie noot begin
  • Hoender sop
  • Elektrisiteit en skoon water

Woensdag 29 April 2020

S.A. Infeksies: 5350 Sterftes: 103

Nog ‘n besige dag in my huishouding. Dis reg so, want as mens besig bly het jy nie tyd om aan negatiewe gedagtes gestalte te gee nie.

Millie in opstand

Millie het nou net mooi genoeg gehad van al in die rondte stap op die gras voor in die erf. Sy protesteer nou luidkeels, rem aan haar band en ignoreer my wanneer ek haar terughou van die hek na vryheid.

DANKBAAR

  • Voëltjies op die draad wat vrolik sing
  • Joernaliste wat ons op hoogte hou met wat in Suid Afrika en die wêreld aangaan.
  • Appeltert met vanielje roomys

Donderdag 30 April 2020

S.A. Infeksies: 5647 Sterftes: 103

Donderdae is die enigste dag in die week wanneer ek my huis verlaat om die nodige inkopies te doen en die winkels is nou nie meer een van my gunsteling plekke nie. Ek koop wat ek moet en gaan dan huis toe. My huis het nou my gunsteling plek geword.

En daar was lig

Millie mag weer gaan stap. Sy gaan so bly wees wanneer ons weer more buite die erf gaan stap en hopelik kan ek nou begin ontslae raak van my COVID 19 vetjies.

DANKBAAR

  • Eiervrug lasagne
  • Sakkie cuppachino – by gebrek aan die ware jakob.
  • Energie en ‘n positiewe gesindheid

Vrydag 1 Mei 2020

S.A. Infeksies: 5951 Sterftes: 116

Dit was vandag ‘n vrolikheid in die strate met lockdown wat nou van Fase 5 na Fase 4 afgeskuif het. Vir die eerste keer in amper twee maande kon ons buite ons huise en erwe gaan stap of fietsry het. Ek het nog nooit so baie mense in my omgewing gesien wat buite stap of hardloop nie. Gewoonweg is ons net ‘n beperkte hoeveelheid en meestal dieselfde gesigte elke dag. Miskien gaan mense nou meer aktief begin raak en dit kan mos net ‘n goeie ding wees.

My hele hart

Millie het haar vryheid terdeë geniet en daai stert het heeltyd gewaai. Sy kon nie glo dat sy uiteindellik buite die erf kon stap nie.

DANKBAAR

  • My en Millie se eerste verfrissende stap buite die huis
  • Ek is amptelik klaar met my weeklange resep projek.
  • Dankie vir al my seëninge

Saterdag 2 Mei 2020

S.A. Infeksies: 6336 Sterftes: 123

Ai dis so lekker om tussen my kruie rond te krap. Dis tog te lekker om te sien hoe ‘n saadjie ontkiem en die eerste groen puntjie bo die grond uitkom en elke dag groter en sterker word. Vandag kon ek van my kruie plantjies in groter potte plant. My eerste baba tamatie plantjies is ook nou bevorder van kraamsaal tot kleuterskool. Die reuke van die kruie oorweldig mens wanneer jy ‘n blaar afpluk en tussen jou vingers vryf. Nadat ek my kruie versorg het, het ek die vuur aangesteek en vir myself ‘n vleisie op die kole gebraai en dit afgerond met my Ma se sago poeding.

DANKBAAR

  • Outydse sago poeding – kleintyd gunsteling
  • Heerlike laatsomer dag
  • Voëltjies wat vrolik sing by my skuifdeur

FOP NUUS

Fop nuus en skelmstreke rakende die Corona virus is orals en ons moet versigtig wees en nie sommer enige ding glo en aanstuur nie. Daar is ‘n klompie gesaghebbende webblaaie wat nie fop nuus versprei nie.

COVID 19 – SUID AFRIKA

A virus broke the world – die wêreld vasgevang in die virus.
Coronavirus klap Suid Afrika – Die virus vind sy pad na Suid Afrika

GESELS SAAM

  • Gaan na my Posbus bladsy
  • Los ‘n boodskap
  • Stuur ‘n e-pos
  • Teken in op my Nuusbrief en bly op datum
  • Besoek my Engelse webblad Let’s make tea vir nog meer artikels.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.