Corona dagboek week 6
Corona dagboek week 6: Sondag 19 April 2020 tot Sayerdag 25 April 2020
Sondag 19 April 2020
S.A. Infeksies: 3158 Sterftes: 58
Die kwik het vandag by ‘n bloedige 36 C gaan draai. Ek was lus vir skaap kerrie en nie eers die hitte kon my geesdrif demp nie. Sondae rus ek, lê op die bank en boek lees. Ek het vandag Nataniël se Kyk na my klaar gemaak. Sy skryfstyl is soos sy manier van praat. Mens hang behoorlik aan die man se lippe. Hy kan ‘n eenvoudige storie met baie kleur en geur vertel. Ek het ook ‘n lekker welverdiende middagslapie ingepas. Volmaakte Sondag.
DANKBAAR
- Hardeband leesboeke
- Selfgemaakte skaap kerrie – uit die boeke uit deur Chef Amanda
- Koelte bome teen die hitte
Maandag 20 April 2020
S.A. Infeksies: 3300 Sterftes: 58
Vandag was ‘n klein bietjie koeler maar steeds ‘n warm 26 C. Ek het weer bietjie in my tuin by die skuifdeur gewerk. Ek het die gedeelte onder die vensterbank waar dit ontsettend warm word in ‘n vetplant bedding verander en eintlik lyk dit glad nie sleg nie. Die blomme wat ek Saterdag geplant het, is als uitgekrap. Ek het egter die belhamel op hete daad betrap – ‘n klompie poue het besluit hulle hou nie van blomme nie. Hoe durf hulle! Ek hou van die poue wat elke nou en dan kom kuier en dit is die dank wat ek kry vir die rys wat ek vir hulle gee. Anee a.
DANKBAAR
- Gemmerbier op ‘n warm dag
- Lap masker by my buurvrou gekry
- ‘n Lekker ontspanne bad
Dinsdag 21 April 2020
S.A. Infeksies: 3465 Sterftes: 58
My huis was vandag ‘n bakkery. Ek het heeldag gebak. Vlakoekies, Sjokolade koekies, Grondboontjie botter koekies, kaas koekies en mini appel tertjies en vir aandete my gunsteling mushroom, feta en spinasie quiche. Nou is my koek blikke vol, reg vir wanneer die kleinkinders weer kan kom kuier.
DANKBAAR
- Video call met die kleingoed
- ‘n stoof en oond vir bak en brou
- Klassieke musiek
Woensdag 22 April 2020
S.A. Infeksies: 3635 Sterftes: 65
Dit was ‘n besige dag. Gewoonlik gaan doen ek my weeklikse inkopies op ‘n Donderdag maar ek het vandag ‘n sielkundige afspraak gehad en toe sommer my inkopies gaan doen. Ek het vir die eerste keer my plaaslike Woolworths tydens lockdown besoek en ek is vinnig in en uit. Ek weet nie van julle nie maar shopping is nie meer iets waarna ek uitsien nie. Ek doen en koop wat ek moet en gaan dan huis toe.
OUMA REBELLEER
My Ma het nou net mooi genoeg gehad van die opsluiting in die ouetehuis en sy het vandag ‘n mini breakdown gehad. Sy het vir meer as ‘n uur by my afgepak en ek het haar net laat praat. Ek dink sy het dit nodig gehad om bietjie af te pak. Ma mis aanraking en nabyheid van haar kinders en my suster wat naby bly mag haar nie eers sien deur die traliehek nie. Dit was net te veel vir my 83 jarige Ma. Ek bid dat ons drie dogters weer saam met Ma kan kuier en sommer groepsdrukkies uitdeel.
DANKBAAR
- Ek kon vandag ‘n klankbord wees vir my Ma
- Lindt peppermint sjokolade
- Gesondheid
Donderdag 23 April 2020
S.A. Infeksies: 3953 Sterftes: 75
Vandag het ek die kleintjies se liefdes pakkies vol verrassings gaan aflewer by hulle huis en hulle was nie tevrede om my nie te sien nie. My kleindogter van 4 was hartseer, sy wil haar Ouma net graag ‘n drukkie gee en Boetie 5 wil by sy Ouma kom kuier. Vanaand sal die President sê hoe die pad vorentoe lyk en wanneer ons weer bymekaar sal kan kuier. Hopenlik kan ons ‘n bietjie meer vryheid met gepaardgaande self verantwoordelikheid kry. Ek besef dat normaal soos ons dit geken het, nou abnormaal sal wees. Ons sal moet aanpas by verandering en ‘n nuwe normaal moet omarm.
DANKBAAR
- Goeie gematigde weerstoestande.
- Gemmerkoekies – self gebak.
- My kleinkinders
Vrydag 24 April 2020
S.A. Infeksies: 4220 Sterftes: 79
Soms moet mens bietjie rustig raak en vandag was so ‘n dag. Ek het vir myself ‘n voet behandeling gegee en my trappers bietjie gekoester. Ek het The Alchemist nader getrek. Dis soveel jare gelede wat ek dit laas gelees het en nou voel na die regte tyd. Ek en Millie het vandag rustig in die huis deurgebring. Daar was nog kos oor van gister so ek het dit net warm gemaak.
OOM CYRIL
Die President het gisteraand aangekondig dat ons van fase 5 na fase 4 gaan van 1 Mei af. Sommige mense lyk my dink als is nou oor en verby en vandag het daar baie meer motors in my straat gery en mense het gedraf en met stoot waentjies gestap. Hulle het duidelik nog nie die MEMO gekry nie of is net aspris en nou is die tyd om saam te werk sodat ons hierdie virus op sy plek kan sit.
DANKBAAR
- Tuisgebakte appeltert met roomys
- Internet toegang
- Gratis konserte op die internet
Saterdag 25 April 2020
S.A. Infeksies: 4361 Sterftes: 86
Nouja, duidelik gaan ons nog ‘n hele ruk so opgehok wees, maar dit beteken nie ons hoef niks te doen nie. Ek probeer om elke dag iets te doen. Ek het vandag begin om my baie resepte uit te sorteer en op heelwat resepte afgekom wat ek gedink het verlore was. ‘n Skatkis vol geure, smake en herinneringe.
KLEINKIND DRAMA
My kleinseun videocall my baie hartseer. Sy seun pop Duppie se oog het uitgeval en nou is daar ‘n gat waar die oog moet wees. Ek stuur toe vir hom ‘n foto van iemand wat ek ken wat ook net een oog het en ‘n oogklap dra. Die trane het verdwyn nadat sy Ma ‘n knoop in die oog gesit het. Ouma se kind se hart is weer heel.
DANKBAAR
- My huis en tuin
- Vanilla roomys
- ‘n Lekker gemaklike bed om op te slaap
Fop nuus
Fop nuus en skelmstreke rakende die Corona virus is orals en ons moet versigtig wees en nie sommer enige ding glo en aanstuur nie. Daar is ‘n klompie gesaghebbende webblaaie wat nie fop nuus versprei nie.
- WHO (World Health Organisation
- News 24 Corona virus Confirmed Cases South Africa
- https://www.worldometers.info/coronavirus/
- http://www.health.gov.zahttps://www.gov.za/Coronavirus
COVID 19 South Africa
A virus broke the world – die wêreld vasgevang in die virus.
Coronavirus klap Suid Afrika – Die virus vind sy pad na Suid Afrika
Gesels saam
Gaan na my Posbus bladsy
Los ‘n boodskap
Stuur ‘n e-pos
Teken in op my Nuusbrief en bly op datum
Besoek my Engelse webblad Let’s make tea vir nog meer artikels.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you