Advies vir my jonger self
Ek het onlangs gedink oor wat my advies vir my jonger self sal wees as ek oorkant haar kan sit met ‘n koppie lavendar tee en ‘n sny kaaskoek,
Wanneer ‘n mens in jou vyftigs beland, dink mens baie terug, soms met heimwee, soms met blydskap en soms met spyt oor wat jou lewe kon wees. Terwyl ek tans op ‘n baie goeie plek in my lewe is en ek al die drake van die verlede verslaan het, was daar wel ‘n tyd toe ek myself gekasty het oor foute wat ek gemaak het, advies waarna ek nie geluister het nie en oorhastige besluite wat ek geneem het.
MY ADVIES VIR MY JONGER SELF
Nouja, trek die tee nader, sny die kaaskoek en laat ons bietjie gesels jonger Amanda. Laat ons net eers bietjie teruggaan in tyd.
Ek het hopeloos te jonk getrou. Ek was 19 en skaars 8 maande uit die skool uit toe ons verloof geraak het en 20 toe ons getroud is. Alhoewel ek weer met dieselfde man sou trou, het nie ek of hy onsself baie goed geken nie. My oorlede man Hannes was self net 22 jaar oud ten tye van ons troudag. Ons onderskeie persoonlike onsekerhede (insecurities) en ons jong en onervare getroudes het vir baie drama gesorg. Binne 5 jaar het ons twee kinders gehad wat baie verantwoordelikhede en stress meegebring het met min geld .
Drome sonder vlerke
Ek wou na skool drama gaan leer het, maar het uiteindellik “gesettle” vir ‘n werk in die staatsdiens waar ek verseker was van medies en pensioen en ek nie ‘n finansiële las op enigiemand sou wees nie. Bygesê het ek ook nie die visie gehad om deeltyds ander opsies te ondersoek nie.
Ek het basies vars uit my ma se huis net in ‘n ander huis met tonne verantwoordelikhede ingestap sonder dat ek werklik geweet het wie ek is en wat ek van die lewe wou hê.
Op 28 was ek reeds ‘n weduwee met twee jong kinders met tonne verantwoordelikhede en bitter baie stress en was daar geen tyd om aan Amanda aandag te gee nie.
DUS JONG AMANDA
Moenie so jonk trou nie. Geen mens ken hom of haarself op 19 nie en om op so ‘n jong ouderdom soveel verantwoordelikheid op jouself te neem is absolute malligheid. Gaan en geniet eers jou lewe en leer jouself ken sonder man, kinders en verantwoordelikhede. Probeer nuwe dinge, kyk wat werk vir jou. Doen wat jy wil doen en as dit nie uitwerk nie, los dit en gaan doen weer iets anders voordat jy settle vir tweede beste.
Leer om NEE te sê
- Ek het baie onnodige dinge op myself geslaai soos om na ander mense se kinders te kyk terwyl ek self twee kinders gehad het en dit sonder betaling.
- Mense sou dinge op my laai omdat ek net nie kon nee sê nie en ek het te sleg gevoel om te weier.
- Ek het altyd aan ander en hulle behoeftes gedink en myself en my eie behoeftes misken.
Wees lief vir mense en neem hulle in ag maar moenie so bevrees wees dat jy liewer dinge doen soos wat hulle wil hê terwyl dit ten koste van jou is nie. Kyk mooi na jouself, jy gaan altyd by jouself wees en jy verdien spesiale behandeling. Wees lief vir jouself en bly altyd getrou aan jouself.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you