Corona dagboek Week 5
Corona dagboek week 5: Sondag 12 April 2020 tot Sayerdag 18 April 2020
Sondag 12 April 2020
S.A. Infeksies: 2173 Sterftes: 25
Ek het vandag vir die eerste keer in jare weer radio kerk geluister en dit was eintlik glad nie sleg nie. Met tye mis ek regte mense wat ‘n vel het en asem haal en saam met wie ek kan koffie drink, ek mis drukkies en aanraking. Nou drukkies ek maar my hond en sit die TV aan net om soms stemme te hoor en mense te sien. Eintlik kom ek en Millie heel goed klaar so alleen en op ons eie tydens grendeltyd. Dis net soms dat ek mense en aanraking mis.
KONINGS KOS
Vandag het ek tog te lekker geëet. Ek het heerlike oondkos gemaak met sjokolade poeding vir nagereg. Verder het ek op die bank in die sitkamer gelê en boek gelees en ou Vetkoek paleis stories op my skoot rekenaar gekyk. Wat het julle als gedoen hierdie naweek?
DANKBAAR
- Radio kerk
- Die mense wat hulle lewens waag om essensiële dienste te verrig
- ‘n Stoof met ‘n oond
Maandag 13 April 2020
S.A. Infeksies: 2272 Sterftes: 27
Ek het die dag begin met heerlike muesli en strawberries terwyl ek my gunsteling oggend program Expresso show op SABC3 gekyk het. Daarna was dit tyd om te begin met my dag se projek. Twee jaar gelede het ek my kombuis oorgedoen. Daar het egter ‘n paar klein goedjies oorgebly wat ek bly uitstel het. Ek moes die vloerlyste nog ‘n lagie verf gee,die kas wat ek gebou het se deure moes nog afgerond word en die gordyne moes nog ‘n kant aan die onderkant kry. Ek het dit als vandag klaar gemaak. As beloning vir myself het ek ‘n heerlike spinasie, mushroom en feta quiche gemaak. Dit was uit die boeke uit lekker. Elke dag kan ek sien hoe ek vorder. My gemoed is oor die algemeen nog goed. Ek mis wel drukkies en soentjies van my kleinkinders.
DANKBAAR
- Wit verf – ek moes die laaste bietjie verf in die blik ‘n bietjie sag maak.
- Groente quiche – heerlik
- Geselsies met my Ma en susters op die foon
Dinsdag 14 April 2020
S.A. Infeksies: 2415 Sterftes: 27
Vandag het ek gebruik om my huis ordentlik skoon te maak. Die laaste ruk het ek nie uitgesuig of vloere gewas nie. Vreeslik! Vanaand voel dit weer lekker om ‘n skoon en netjiese huis te hê. Vandag mis ek aanraking – almal het mos ‘n drukkie nodig elke nou en dan. In elk geval gee Millie glad nie om as ek haar ‘n drukkie gee nie. My Ma het vanaand vir my gesê dis vir haar baie hartseer dat sy op die ouderdom van 83 so afgesny is van die wêreld af. My hart wil breek vir my Ma en al die ander ou mensies wat so afgesny is van hulle mense. Ek bid dat ons almal vir mekaar gespaar sal bly sodat ons ‘n lekker groot groeps drukkie kan doen.
DANKBAAR
- Millie wat so lekker met haar bal speel
- Telefoon gesprekke met my Ma
- Waatlemoen eet voor op die gras terwyl ek en Millie die motors kyk
Woensdag 15 April 2020
S.A. Infeksies: 2506 Sterftes: 34
Ek bly besig met allerhande dinge en het nie tyd om ledig te sit nie – daar is net te veel goed wat ek in hierdie grendeltyd wil doen. Ek dink wel ek eet te veel die laaste tyd, my klere begin bietjie knap te sit. Ek het vandag ‘n lekker piesangbrood gebak en sommer ‘n ekstra ene vir die kleinkinders. Wat maak julle nog met julleself in hierdie tyd?
DANKBAAR
- My Checkers plantjies wat begin groei
- Rooibos tee eerste ding soggens
- ‘n Lekker borrelbad met rooi bubbles
Donderdag 16 April 2020
S.A. Infeksies: 2605 Sterftes: 48
Vandag sou my suster se seun getrou het. Ek en my Ma en my ander suster en haar man sou opgevlieg het vir die troue. Die kaartjies was reeds gekoop, my rok hang in die kas met die tag nog aan hom. Dis bietjie hartseer. Die bruid se Oupa en Ouma, My Ma en die Oupa en Ouma aan Vaderskant sou almal ‘n ereplek ingeneem het. 5 Ou mensies by kleinkinders se troue, dis mos spesiaal. Ek bid dat almal gespaar sal wees sodat ons later ‘n groot makietie kan hou.
KLEINKINDERS
Elke Donderdag gaan ek winkel toe vir die nodigste goedjies. Ek pak dan vir die kleintjies ‘n kosblik vol lekkernye en lewer dit af. Ek laat weet dis in hulle motor wanneer ek tuis kom. Die kleintjies sien baie uit daarna en die foto’s en video’s van die uitpak van die kosblikke is te dierbaar.
DANKBAAR
- My kleinkinders se liefde
- ‘n Milo sjokolade – heerlik
- Son op my arms
Vrydag 17 April 2020
S.A. Infeksies: 2783 Sterftes: 50
Die swart hond het so bietjie vir my geloer vandag en ek moes myself dwing om aan die gang te kom met my dag se takies. Gelukkig het ek geleer wat om te doen wanneer die neerslagtigheid my takel. Ek doen asemhaling oefeninge, mediteer en doen taichi en gewoonlik gaan stap ek dan ook met Millie maar nou met ons in grendeltyd, is die stap nie moontlik nie. Ek het myself gedwing om klere aan te trek en myself forseer om klein dingetjies te doen soos om patats op te sny vir vries en uiteindelik het ek weer op dreef gekom. Ek wil dit egter duidelik stel dat bogenoemde vir my werk, dis nie te sê dat dit vir ander sal help nie.
LOCKDOWN 2
Vandag merk ook die 2de fase van ons nasionale lockdown. Ons gaan nog ten minste die volgende 2 weke onder slot en grendel wees en dit kan langer word afhangende van die virus se opmars. Totdat daar ‘n entstof teen COVID19 op die rakke is, gaan ons versigtig moet lewe dis nie altemit nie.
DANKBAAR
- Skryfterapie wat my help om dinge te verwoord en te verwerk
- Oranje soet patat skyfies – dis heerlik
- Millie wat met haar bal speel – dit help haar in hierdie tyd
Saterdag 18 April 2020
S.A. Infeksies: 3034 Sterftes: 52
Wanneer ek in my kruie tuin vroetel kan hoor en sien vergaan. Ek verloor myself tussen die reuke en kleure. My kruie is in potte, binne en buite my huis. Dit is sodat ek hulle kan ronddra tussen son en wind. Hier in George kry ons bergwinde soms erg wild en warm en dan kan my delikate kruie met potte en al wegwaai. Soms wens ek hierdie virus wil ook weg waai sodat ek weer my Ma ‘n drukkie kan gee en saam met ‘n vriendin kan gaan tee drink in die dorp. Dit help niks om kwaad te word vir hierdie onsigbare vyand nie en dit help ook nie om roekeloos te raak en die regulasies te oortree nie. Dit gaan mens net ‘n boete of tronkstraf en ‘n misdaad rekord besorg en op 55 het ek nou nie lus vir tronkkos nie. Ek eet liewer tuis.
SNAAKSE DINGE
Elke dag vermaak ek myself deur snaakse videos van mense in issolasie te kyk. Dis eintlik wonderlik dat die hele wêreld op dieselfde tyd met hierdie virus sukkel. Nou kan ons mekaar vermaak en moed inpraat. Daar is ook baie gratis konserte van bekendes op die Internet en kan mens laat vergeet van die bose aanslae van buite.
DANKBAAR
- Ek het ‘n huis met ‘n grasperk waar ek bietjie buite kan rondloop wanneer die huis en lewe druk
- My hond Millie wat ‘n wonderlike issolasie maat is
- Opgegaarde potting grond wat nou handig te pas kom
FOP NUUS
Fop nuus en skelmstreke rakende die Corona virus is orals en ons moet versigtig wees en nie sommer enige ding glo en aanstuur nie. Daar is ‘n klompie gesaghebbende webblaaie wat nie fop nuus versprei nie.
- Die WHO (World Health Organisation
- )News 24 Corona virus Confirmed Cases South Africa
- Bing Corona Tracker
- http://www.health.gov.zahttps://www.gov.za/Coronavirus
CORONA SUID AFRIKA
A virus broke the world – die wêreld vasgevang in die virus.
Coronavirus klap Suid Afrika – Die virus vind sy pad na Suid Afrika
GESELS SAAM
Gaan na my Posbus bladsy
Los ‘n boodskap
Stuur ‘n e-pos
Teken in op my Nuusbrief en bly op datum
Besoek my Engelse webblad Let’s make tea vir nog meer artikels.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you