Corona dagboek week 14
Corona dagboek week 14: Son 14 Junie 2020 tot 20 Junie 2020
Sondag 14 Junie 2020
S.A. Infeksies: 70 038 Sterftes: 1480
Dit was ‘n rustige slaperige dag vandag. Sondae werk ek nie, maar vandag was ekstra lui. Ek het twee keer op die bank aan die slaap geraak en dit was eintlik net lekker om onder die kombers met ‘n warmwatersak te lê, boek te lees en in te haal op verlore slaap. Later het ek darem opgestaan en hoender is koning gemaak. Terwyl ek hier tik het dit saggies begin reën – heerlik
DANKBAAR
- Middagslapie op my gunsteling bank
- Vrugte slaai
- Sagte reën
Maandag 15 Junie 2020
S.A. Infeksies:73 533 Sterftes: 1568
Die reën is maar yl al het die weervoorspelling gesê dit gaan lekker reën. Ek het weggespring met my eerste boekrak en dit het heel goed uitgekom maar toe ek dit aan die muur wil vassit kom ek agter die muur is ongelyk – oops. Skrywer Elsa Joubert is oorlede blykbaar weens komplikasies met COVID 19. Ek dra al die hartseer families in gebed op. Ons lewe tans in onseker tye en mense kry swaar. My hart gaan uit na almal.
DANKBAAR
- Gemengde roomys op ‘n koel dag.
- My eerste boekrak is klaar
- Cream Crackers met kaas
Dinsdag 16 Junie 2020
S.A. Infeksies: 76 334 Sterftes: 1625
Vandag was die eerste dag wat ek weer buite kon sit in die son en koffie drink na 3 dae se bewolkte lug. Wat ‘n voorreg! Daar is darem niks so lekker soos ‘n winterson nie.
DANKBAAR
- Die son op my vel
- Een pot pasta – Martha Steward se wenresep
- Piesangs en yoghurt
Woensdag 17 Junie 2020
S.A. Infeksies: 80 412 Sterftes: 1674
Ek het ‘n besige dag agter die rug met my boekrak aktiwiteite in volle swang. Vanaand was ek egter lus vir gebraaide aartappels met ‘n vark tjop en toe maak ek dit. Ek lek nou nog my lippe af. Kyk julle ook Expresso morning show en/of Afternoon Express? Dis nou twee puik shows op SABC3. Baie positief en opbouend. Ek is nie ‘n groot TV kyker nie maar bogenoemde is puik. Ek kyk ook graag Geure uit die Vallei.
DANKBAAR
- Gebraaide aartappels
- Hande room vir moeë hande
- Dankie vir hande en voete
Donderdag 18 Junie 2020
S.A. Infeksies: 83 890 Sterftes: 1737
Vandag se jaffels het groot aftrek by die kleintjies gekry met ‘n sjokolade cupcake vir poeding. Ek moes heen en weer hardeware winkel toe ry om die goed te kry om my boekrakke klaar te bou en elke keer moet ek onthou om my masker saam te vat. Die infeksies en sterftes weens COVID 19 is besig om te klim. Pas julleself mooi op.
DANKBAAR
- Die kleintjies se dankbare gesiggies vir hulle kos pakkies
- ‘n Mitered handsaag – dit verrig wondere
- Mocha koffie – in ‘n sakkie
Vrydag 19 Junie 2020
S.A. Infeksies: 87 715 Sterftes: 1831
Met my boekrakke klaar moes ek vandag al die afwerking doen en toe begin om my klomp boeke uit te sorteer. Dis nou vir jou ‘n grote taak. My boeke was so lank op hope gepak dat ek al vergeet het wat ek het. Dis ‘n skatkis vol leesstof.
DANKBAAR
- Houtlym
- Boeke- dit maak my gelukkig
- Marbello sampioene, gevul en in die oond gebak.
Saterdag 20 Junie 2020
S.A. Infeksies: 92 681 Sterftes: 1877
Nog ‘n harde dag se werk het vrugte afgewerp en ek kon vandag intrek in my nuwe biblioteek sitkamer.
En so het die haarsalonne ook nou oopgemaak. Ek is bly dat nog meer mense kon terugkeer werk toe, ek bid net dat mense steeds versigtig sal wees. Daar is ongelukkig mense wat dink dat COVID 19 ‘n scam is en derhalwe steur hulle, hulle nie aan veiligheidsmaatreëls nie. Bly veilig en kyk mooi na julleself en julle geliefdes.
DANKBAAR
- Boekrakke vir al my boeke
- Spaghetti met bacon en kaas
- Rooibos tee met gemmer
Gesels saam
- Gaan na my Posbus bladsy
- Los ‘n boodskap
- Stuur ‘n e-pos
- Teken in op my Nuusbrief en bly op datum
- Besoek my Engelse webblad Let’s make tea vir nog meer artikels.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you