Corona dagboek week 10

corona dagboek week 10

Corona dagboek week 10: Sondag 17 Mei 2020 tot Saterdag 23 Mei 2020

Sondag 17 Mei 2020

S.A. Infeksies: 15 515 Sterftes: 264

Ek sukkel deesdae om tot ruste te kom, my kop maal met als wat ek nog wil doen voordat ons weer ons lewens kan hervat na die nasionale inperkings. My slaap patroon het beslis verander in hierdie tyd en ek moet hard met myself praat om soms net vir 10 minute af te skakel en in die herfs sonnetjie te sit en tee drink. Vandag het ek heerlike gerookte varknek gemaak met mushrooms en fyngedrukte aartappels en botterskorsies, voorgesit met bloukaas sous.

DANKBAAR

  • Tientalle resepte – dankie vir die mense wat dit uitgedink het.
  • My 3 sitplek bank wat so lekker lê
  • Lekker geselsies met familie

Maandag 18 Mei 2020

S.A. Infeksies: 16 433 Sterftes: 286

Dit was ‘n bedrywige dag vandag. Ek het eerstens die bosse buite my huis aan die agterkant afgeknip en uitgetrek sodat ek by my houthuisie kon uitkom waarin al my hout en dinge is. Dit het omtrent soos Rapoensel se kasteel gelyk na 2 maande van inperking – toegegroei. Nadat ek die oerwoud getem het, het ek die houthuisie se inhoud uitgesorteer sodat ek kan sien wat ek het en wat ek moet kry om die groot boekrak in my sitkamer te bou. Daarna het ek die planne vir die boekrak opgetrek. Dit was ‘n groot werk. Nou is dit egter gedoen. Dankie tog.

DANKBAAR

  • Die energie om take tot uitvoer te bring
  • Boekrakke se mates uiteindelik klaar uitgewerk
  • Appeltert met room

Dinsdag 19 Mei 2020

S.A. Infeksies: 17 200 Sterftes: 312

Vandag is bietjie rustiger en kan ek my skryfwerk wat ietwat agter is weer inhaal. Daar is soveel dinge waaraan ek tans werk. Ek is eintlik verstom oor diegene wat vertel hoe verveeld hulle in hierdie tyd is. Ek weet nie hoe dit moontlik kan wees nie. Daar is tog altyd ‘n boek wat jy wil lees of ‘n kas wat jy wil regpak.

DANKBAAR

  • Verveeldheid is nie deel van my resumé nie daarvoor het ek net te veel dinge op my agenda
  • Blomkool pizza saam met ‘n glasie gemmerbier
  • Om gemaklik asem te haal

Woensdag 20 Mei 2020

S.A. Infeksies: 18 003 Sterftes: 339

Dis glad nie ‘n maklike taak om mens se lewe te balanseer in hierdie ongebalanseerde tydperk nie. Ek kan wel probeer. Elke weeg stel ek doelwitte en doen verskillende dinge en projekte sodat ek nie verveeld raak of die spoor byster raak nie. Hierdie week het ek besluit om meer aandag aan my skryfwerk te gee en dit vat dissipline. Dis maklik om aandag afleibaar te raak en juis daarom skryf ek in stilte, geen radio of tv nie en ek weerhou myself daarvan om tussenin op YouTube of Facebook te kuier. Ek neem wel ‘n tee breuk elke uur of wat buite in die herfs son. Hoe balanseer julle dinge in hierdie tyd?

DANKBAAR

  • Aandete buite in die tuin
  • Elke suksesvolle voltooiing van projekte is ‘n rede vir dankbaarheid
  • Vars filter koffie

Donderdag 21 Mei 2020

S.A. Infeksies: 19 137 Sterftes: 369

My enigste winkel dag in die week het weer vandag aangebreek en alhoewel dit die enigste dag in die week is wanneer ek uit my huis uit gaan is dit nie eintlik veel van ‘n plesier nie. Ek maak ‘n lysie van wat ek moet koop, sit my masker op en gaan vinnig in die winkel in, koop wat ek moet koop en gaan gou weer huis toe. Dan ontsmet ek als, ook myself, my klere en my masker en spring in die bad terwyl my pakkies in die voorportaal staan vir omtrent 4 ure voordat ek dit wegpak. Dis beslis nie die hoogtepunt van my dag nie. Ek gee egter nie om dat ek basies ‘n kluisenaar in my huis is nie. Dis baie belangrik dat ons so veel as moontlik moet tuis bly sodat die virus nie versprei kan word nie. Bly veilig.

DANKBAAR

  • Ek is dankbaar dat ek nog kos het om te eet.
  • Dankbaar vir ‘n warm huis
  • Dankie vir ‘n inkomste in hierdie onsekere tyd

Vrydag 22 Mei 2020

S.A. Infeksies: 20 125 Sterftes: 297

Ek het vandag ‘n muisval gaan koop wat die muis nie dood maak nie, maar vang in ‘n hokkie. Nou wag ek vir die muis om in die valletjie te stap sodat ek hom op ‘n menslike manier in die veld kan gaan vrylaat. Ek kan niks dood maak nie, nie eers ‘n muis nie, maar ek wil net graag hê hy of sy moet verhuis. Nou moet ek net geduldig wag…

DANKBAAR

  • Lekker lang geselsie met My Ma op die foon
  • No Kill muis valletjies
  • Varkworsies met macaroni

Saterdag 23 Mei 2020

S.A. Infeksies: 21 343 Sterftes: 407

Die herfs sonnetjie raak al hoe koeler soos die winter nader kruip. Volgens die weervoorspelling gaan dit Maandag en Dinsdag reën met gepaardgaande koue. Sop is my voorland lyk dit my.

Menings vir feite

Daar is soveel fop nuus rakende die virus op sosiale media met tientalle sogenaamde kenners wat hulle menings vir feite lug. Ek lees so baie van mense wat sê die virus is ‘n klug en dat dit glad nie bestaan nie. Ek is geskok oor mense se arrogansie en hulle aanhang van fop nuus asook die ontkenning en miskenning van COVID 19. Verskeie mense sê op sosiale media dat hierdie virus nie bestaan nie want hulle ken niemand wat dit het of gehad het nie. Kan jy nou meer! Vertel dit nou vir mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het a.g.v COVID 19.

DANKBAAR

  • Tuisgemaakte visvingers en gegeurde rys
  • Pienk en wit malva lekker
  • Ek kan oopkop na dinge kyk en nie deur die massas meegesleur word nie

Gesels saam

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.