My skryf kom van vêr af

my skryf kom van vêr af

My skryf kom van vêr af – om die waardheid te sê ek het dit nog altyd geniet om te skryf selfs toe ek nog ‘n klein laerskool dogter was. Ek het alewig dinge neergeskryf. Ek was ‘n sensitiewe kind en na my Pa se dood toe ek 5 jaar oud was, het skryf vir my ‘n manier gegee om my gevoelens in woorde om te sit. Ek het nie ‘n dagboek bygehou nie maar het my gevoelens op stukkies papier en leë boeke geskryf. Skryf was die enigste plek waar ek tuis gevoel het en natuurlik het lees my vervul.

MY VOETSPORE IN DIE BIBLIOTEEK

Die biblioteek was my beste vriend want ek en die boeke het ‘n konneksie gehad. Ek kon ure in die biblioteek verwyl en myself verloor in die boeke. Die rye en rye boeke het my gefassineer. Soms het ek liefdesverhale gelees, ander kere avontuur verhale en ook ware verhale. Ek was ‘n kind in die jare toe daar nog nie internet was nie en ek het die boek besprekings in tydskrifte en koerante gelees en dan by die biblioteek gaan navraag doen of hulle die boeke het. Ek het gedink om boeke te skryf moet wonderlik wees want dit verskaf soveel genot vir ander.

OPSTELLE SKRYF

Ek het opstelle geskryf sonder om ‘n oog te knip. Dit het vir my natuurlik gekom en ek het dit geniet om nie net stories te skryf nie maar ook ware gebeure. Sommige kinders het gesug waneer hulle moes opstelle skryf maar dit was nie vir my ‘n probleem nie. Dikwels het ek ook sommer ander kinders se opstelle namens hulle geskryf… Selfs in Engels was opstel skryf nie vir my ‘n probleem nie al was my grammatika en dinge nie altyd van die beste nie.

MONDELINGE EN MEER

Ek het al my mondelinge en ander toesprake self geskryf en die onderwysers wou my dikwels nie glo waneer ek hulle verseker het dat ek al my goed self skryf nie.

SKRYFTERAPIE

Jare later sou ek hoor van skryfterapie toe dinge in my lewe baie gekompliseerd was en het ek dit aktief begin beoefen. Dit het my gehelp om deur die moeilike tye te kom. Skryfterapie is werklik terapie sonder die kostes en waar ander hulle persoonlike skryfwerk aan die wêreld ten toon stel, verkies ek dit om my terapie skryfwerk privaat te hou. Ek skryf enige ding in my skryfboek en ek sê presies hoe ek voel en waneer iemand my kwaad gemaak het, is daar dikwels ‘n kras woord wat op die papier beland. Lizette Rabe het ‘n boek oor skryfterapie geskryf nl. Om tot verhaal te kom. Sy het skryfterapie beoefen met die dood van haar geliefde seun.

My skryf kom van ver af en ek is nie van plan om gou te stop nie. Daarvoor gee skryf my te veel plesier – of dit nou skryf in ‘n joernaal is, skryf vir hierdie webblad of opestelle – dit bly net lekker om te skryf.

Hou jy ook van skryf? Waaroor skryf jy? Gooi ‘n briefie in my posbus en gesels lekker saam.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.