Al sou die vyeboom nie bot nie

Joernaal
Omtrent joernaal
Die joernaal inskrywings is informele artikels oor enige iets persoonlik en ander.
Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyf oes misluk en die lande geen oes lewer nie nogtans sal ek juig en jubel – HABAKUK 3
Ek en my gelukkige plek is weer bymekaar en dis waar ek nou sit en skryf.
Na my Ma se beroerte in Oktober 2022 het alles in my lewe stilgestaan. Stagneer. Ek het gesukkel om weer in ritme te kom met die lewe. My tuin het die meeste agter geraak – veral my eetbare tuin by my agterdeur en dis waar ek op my gelukkigste is buitekant. Dis beskut en beskerm met hoë heinings waaroor niemand iets kan sien nie. In my eetbare tuin is daar kruie, vrugte en groente en ’n ingeboude sement tafeltjie met los staal stoele. Dis stil en rustig hier en dis waar my siel gevoed word.
Vir 6 maande kon ek nie in my gunsteling plek sit en stilwees nie
Elke dag sou ek deur die venster die oorgroeide plek sien en nie weet of enige iets nog lewe nie. Ek het 3 maande lank hard gewerk om hierdie spesiale plekkie te skep en 2 weke nadat ek die laaste vrugteboom geplant het, het my Ma siek geraak en ons lewens het vir altyd verander. Ek het hier gevat en daar gelos terwyl ek elke 3 weke of so plaas toe is om te help met my Ma.
My siel was honger en op ’n dag het ek begin skoonmaak. Ek is opsoek na hoop. Soos ek die een na die ander lang grasse en bossies uittrek ontdek ek die vermiste plante.
Die lavender verraai homself – die reuke vul my sintuie. Tiemie, Kerriebos, Pietersielie, Basiliekruid, Mint en Roosmaryn
Die vrugteboord het baie gekos om aan te lê en ek vrees die ergste. Tyd staan stil terwyl ek my pad deur die boord werk. Albei Pomegranate lewe nog, so ook die olyfbome, Pruim en Kumquat. Die suurlemoenboom en bloubessie plante ook. Die laaste boom is die Evita vyeboom wat ek ‘n paar maande vantevore op my verjaarsdag gekoop het – dis my simbool van hoop en ek kan dit nie sien nie. My hande is moeg – ek werk al ure sonder ophou.
Ek kan mos nie nou stop nie – ek moet weet of my vyeboom oorleef het. Ek werk verder my pad deur die wildernis.
Dis net ek, my Here en my gedagtes. Die laaste paar maande was uitdagend op my gemoed. Ek is soos my Ma ook ‘n enkelouer en onafhanklik. Dis erg om my Ma so hulpeloos en afhanklik te sien. Terwyl ek die een na die ander vuilgoed uit die grond trek dink ek oor my kinderdae en alles wat ons as gesin moes deurmaak en oorkom. Die wete dat my Ma nie meer jare oorhet nie. My eie sterflikheid.
My gesig is nat van die trane. Ek huil oor al die mense wat ek al moes begrawe het en ook die wat ek lewend moes afstaan.
Here, dankie dat U by my is want ek voel so alleen. My hande trek koorsagtig die bossies uit en dan sien ek ‘n dowwe pers kol deur die bosse verskyn. Ek vee my oë met die agterkant van my hand af – weer en weer. Dit lyk soos… Nou is daar geen keer aan my nie.
Die moegheid en hartseer is weg. Ek het hoop.
Die fokus is op die pers kol. Die pers word helderder en dan – dis my vyeboom en die pers is ’n ryp vy aan my eie boom. My eerste vrug uit my tuin. Daar tussen die vuil pluk ek die vy en breek dit oop. Dis heerlik soet en sappig. Dankie Here vir Hoop.
Die Here is vir my baie goed. Ek is gelukkig. Dit is wel met my siel.
Discover more from Amanda Skrywer
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Una
25 April 2023 at 7:49 amDis ñ kosbare skrywe, Amanda, jy gee sommer hoop ook hierdeur. So dankbaar dat jy weer hoop ervaar.
Amandaskrywer(Aduppie)
25 April 2023 at 8:56 pmOns het almal hoop nodig anders sal ons vergaan van ellende. Dankie vir die mooi boodskap.