Stilte

stilte

Teetyd kuiers is ‘n maandelikse gesels rubriek geskryf deur Amanda Spies du Plessis

Amanda Spies du Plessis

Teetyd kuiers argief

Rooibos tee

Teetyd kuiers met Amanda

Stilte rondom my. Dis wat ek nodig het om optimaal te funksioneer. Stilte is terapeuties en goed vir my siel. Net ek, my God en stilte.

In my jong dae het ek alewig mense opgesoek of the Televisie aangesit. Ek was bang vir alleenwees en eensaamheid. Hoe raseriger hoe beter. Na my man Hannes se dood toe ek 28 jaar oud was, was ek genoodsaak om maniere te vind om al die nuwe uitdagings van enkelouer wees te hanteer. Ons gesamentlike vriende het die een na die ander verdwyn en ek het myself bevind met 2 klein kindertjies wat baie aandag geverg het. En toe ontdek ek…

Stilte

Dit was nie maklik om uit te gaan met twee kleintjies van 3 en 5 nie, dus het ek meestal tuis gebly. My Televisie en Radio het dag en nag gespeel totdat ek die krag van stilte ontdek het. Teen hierdie tyd was my kinders ietwat ouer en ek het nodig gehad om my batterye te herlaai.  Albei my kinders was weg vir die naweek en nie een van my vriende was tuis nie. Ek was gedwing om alleen terug te keer na my huis toe waar stilte my begroet het. Dit was die beste ding ooit. ’n Nuwe lewenslange vriend.

Laurika Rauch noem haar huis ’n oase van stilte – wat ’n mooi beskrywing.

My huis is nou ook ’n oase van stilte. My kinders is groot en uit die huis met hulle eie gesinne. Die kleinkinders kom twee keer ’n week kuier en dan kry ek die balans tussen stilte en geraas.  Alhoewel ek tye het wat ek Televisie kyk, Radio luister of saam met ’n vriendin kuier het ek lief geraak vir die stilte. God se musiek is die mooiste. Ek hoor die voëls buite, die geritsel van die blare in die wind en die paddas wat sing by die dammetjie. Bowenal voel ek hoe my siel met my liggaam kontak maak en ek weer een word met myself.

“Jy hoef nie berge of kranse te gaan klim nie. Jy kan net jou oë sluit en in die Binnestilte gaan. Dan ervaar jy die Onbekende, die lieflike eenwees met alles binne-in jou en rondom jou. Dan leef jy in hierdie ligte ekstase, die liefde vir alles oorrompel jou.” ― Elsa Joubert, Spertyd

Omhels die geskenk van stilte

4 Comments

  1. elsabeskryf

    1 May 2023 at 5:06 pm

    Dis besonders: oase van stilte. Sal dit nie sommer vergeet nie.

    1. Amandaskrywer(Aduppie)

      1 May 2023 at 6:33 pm

      Ek het ook so gedink. Beter kon ek dit nie beskryf nie

  2. scrapydo2.wordpress.com

    1 May 2023 at 8:36 am

    Stem saam met die stilte om jou, om jou te kalmeer en rigting te laat behou. Eks ook n ouma . Ek geniet dit as hul rustig saam met my is dit help hul ook om te kalmeer.

    1. Amandaskrywer(Aduppie)

      1 May 2023 at 6:36 pm

      Oja beslis – en Ouma wees is meer ontspannend

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.