Wanneer jou Ma oud word
Wanneer jou Ma oud word kan dit soms uitdagend en moeilik wees, soms lag ons saam met ‘n traan in die oog en dink terug aan ons kinderjare en Ma in die fleur van haar lewe.
Om die waarheid te sê dink mens jou Ma is oud wanneer jy nog ‘n kind is. Ek onthou hoe ek gedink het my Ma is stokoud toe sy 40 geword het en toe ek 40 geword het, het ek gedink ek is nog jonk!
Twee volwassenes
Ek het altyd aan my Ma gedink as hierdie Supervrou wat kon kos maak, klere maak, tuin maak, huis skoon maak. Sy was onbreekbaar, vol energie en het op haar eie bene gestaan. Dit was ‘n ervaring om vir die eerste keer saam met my Ma in ‘n koffie winkel te kuier. Twee volwassenes wat saam kuier en diep dinge gesels om ‘n koppie koffie. Sy het saam berg geklim, kilometers ver gestap, fiets gery en saam gesels oor nuus gebeure.
Dinge verander
Dan op ‘n dag besef jy jou Ma se stap is stadiger, die brein nie meer so flink nie en sy gaan deur ‘n hele rits name voordat sy by joune uitkom. Nog later stap sy met ‘n kierie, kan nie meer fiets ry nie en vergeet dinge.
Wat gaan aan?
Saam met die ouderdom kom ook die geite en grille. Amper weer soos ‘n kind. Sy wil nie hê jy moet haar help oor die pad loop nie. “Ek kan self stap dankie”. Daar is ongeduld by haar te bespeur wanneer jy te lank by die kafee vertoef en die rys korrels is te hard. Sy is soms openlik geïrriteerd met jou en die manier hoe jy dinge doen. Soms vererg jy jou.
Die onthou
Behalwe die ongedurigheid is daar ook die terugdink. “Onthou jy nog toe ons by Koppies gaan kuier het en julle onder die koei gelê en melk drink het”? Sy onthou ook jou geboorte en hoe die donderweer oor die hospitaal bed geslaan het toe jy jou eerste skree gegee het. Met tye is die verstand weer helder.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you