Vrydagaande blues is erger

Vrydagaande blues is erger as die Sondagaande blues dink ek. Daar is ‘n definitiewe verskil tussen die twee. Ek weet nie of almal die Vrydagaand blues ervaar nie. Dis egter ‘n werklikheid in my lewe.
Dit was nie altyd so nie
In die jare toe my man nog geleef het was Vrydagaande die hoogtepunt van ons week.Ons het deur die week hard gewerk. Vrydagaande het ons en vriende van vroeg aand tot laat om die braaivleis vuur gekuier. Ons kinders was almal min of meer dieselfde ouderdom. Hier kort voor betaaldag was die geld maar min. Dan het ons winkel deeg broodjies op die vuur gebak en viennas binne in gesit. Koningskos saam met vriende.
Sondagaande blues
Meeste van ons het al hiermee kennis gemaak. Dit is daardie vreemde heimwee gevoel. ‘n Gemis. ‘n Gevoel van alleenheid selfs met iemand langs ons. Verskeie bekende mense onder wie Nicole Kidman het ook al hiervan melding gemaak.
Vrydagaande blues
My eerste ervaring hiervan was direk na my man se dood. Ons ou vriende was nie meer gemaklik daarmee om te kom kuier in die afwesigheid van die man van die huis nie alhoewel ons tog aanvanklik probeer het. Sonder sukses. Dis niemand se skuld nie. Net die beloop van die lewe. Met verloop van tyd het ek gewoond geraak aan die nuwe Vrydagaande. Net ek en my kinders alleen op ‘n Vrydag aand. Twintig jaar later is hulle uit die huis met hulle eie geliefdes, vriende. Ek is steeds op my eie en Vrydagaande is nou soveel anders. Ek, my hond Millie en die radio en meestal is ek gelukkig en tevrede daarme. Tog is daar ‘n heimwee binne my wanneer ek die mense in my omgewing hoor en sien lag en gesels met vriende om die braaivleis vuur. Vrydagaande blues is erger as die Sondagaande blues. Ek gun almal daardie Vrydagaande kuiers al voel ek soms alleen. Daar is iets aan ‘n Vrydag aand.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you