Verandering is so goed soos vakansie
In 1994 het ek ‘n huis gekoop. My eerste as ‘n enkel vrou en Ma na my man se skielike dood. Die huis was ‘n tuiste vir my en die kinders na die seer. Drie slaap kamers en ‘n groot oop leef vertrek met ‘n pikante halflyf muurtjie in die middel. Vir 20 jaar het die muurtjie alles in die leef area beheer. Ook in my lewe. Dit maak nie saak hoe ek die meubels rangskik nie, die muurtjie was alewig in die pad van my kreatiwiteit. Soms was die sitkamer voor die muurtjie en die eetkamer gedeelte agter. Ander kere het die agterkant van die muurtjie ‘n pakplek vir opgaar goed geword.
Die muurtjie het ook vir my as persoon in my boks gehou. Heeltyd op dieselfde plek. Geen omdraai of vorentoe nie. Dis my lot. Ek moet dit maar aanvaar. Die muurtjie gaan altyd daar wees.
Die baksteen in my kop
Tot op ‘n dag in 2014 toe ek my leefarea ‘n opkikker wou gee. Die muurtjie was in my pad. Ek wou skree van frustrasie. Die middag kom ‘n vriendin kuier. Ek deel my frustrasie oor die simpel muurtjie met haar. “Breek dit af” sê sy. Ek is verstom. Is dit selfs ‘n moontlikheid? Een ding lei tot ‘n ander en ‘n ander vriendin se man stap in met ‘n beitel en ‘n hamer. ‘n Uur en ‘n half later lê die muurtjie in stukke buite. Die self opgelegde tronk deure swaai oop en vryheid wink.
Sewe jaar later en die afgebreekte muurtjie en die gepaardgaande vryheid het’ n enorme verandering in myself en my lewe teweeg gebring. Elke dag is ‘n uitdaging en aansporing tot nuwe dinge. Niks is te groot nie. Ek sien vir alles kans. Ek besef elke dag weer en weer hoe iets so simpel soos ‘n muurtjie mens kan terug hou in die lewe. Dis so onnodig.
Dit bring my by hierdie webblad. Ook hier was ‘n muurtjie in my pad. SEO optimalisering. In leke terme beteken dit net dat vir jou webblad om aanvaarbaar vir die soek enjins te wees en ‘n hoë rank te handhaaf moet die artikels op ‘n sekere manier geskryf word. Dit beteken egter dat my kreatiwiteit aan bande gelê word en dit sluit ook my skryfstyl in. Na vele oorwegings het ek besluit om minder op SEO te fokus en myself die vryheid te gee om te skryf soos ek gemaklik voel. Tweede muurtjie afgebreek,
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you