Totsiens Ma
Totsiens Ma

My liewe Moeder
Hoe sê mens dankie vir so ‘n spesiale Ma? Waar op aarde begin ek?
Ma se liefde vir God en Sy Woord wen los hande. Ek het my altyd verstom oor hoe goed Ma die Bybel geken het. Ma kon ‘n Bybel versie in sekondes vind in Ma se Bybel sonder indeks vingers. Die oop Bybel op die bed. Altyd gereed. Ma het ons aan die voete van die Here groot gemaak. Eindelose gebede vir almal wat gebede nodig gehad het.
Ma se hele lewe het Ma gewy aan barmhartigheids werk en ons van kleintyd af saam geneem.
Besoeke aan ouetehuise en huise vir gestremdes. Die kleurling gemeenskap onder in Jan van Riebeeck weg in Oudtshoorn vir wie ons vrugte en groente uit Ma se tuin geneem het met ons fietse. So ‘n warm hart vir mense in nood. Ma het nooit Ma se brandarm jare vergeet nie. Kaalvoet skool toe en die gespot oor julle meelsak klere. Ma wou nooit gehad het ons moes in die strate loop en looitjies verkoop vir die skool nie want Ma het nooit vergeet hoe die pauper (arm) kinders in ‘n ry moes staan vir kospakkies nie.
Ek sal nooit vergeet hoe Ma opgestaan het vir die verontregtes nie.
Die vroom sakeman in Oudtshoorn wat gereeld op die voorblaaie van die koerante gestaan het met skenkings aan een of ander organisasie en toe ‘n ou Tannie van 90 by die Munisipaliteit gaan verkla het oor haar oorgroeide tuin. Ma het hom aangevat voor sy kliente: “Jy behoort jou te skaam voor God dat jy ‘n oumens verkla” Heel uitdagend het hy Ma toegesnou: “Dis haar plig om te sorg dat haar gras gesny is, ek gaan dit nie vir haar doen nie” ,”Jy hoef nie, ek het dit self met hierdie twee hande skoon gemaak” het Ma geantwoord.
14 Maande gelede het my en Ma se nuwe avontuur by die tehuis begin.
Ek en ma het baie dinge gedeel. Ons is albei enkelouers met ‘n sterk geloof. Ons het dikwels op die bankie voor huis 20 gesit en gesels en gestap sodat die ou bene aan die beweeg kan bly. Ma het elke Sondag se ontbyt muffin gedeel met my. Ons was nader aan mekaar as ooit tevore.
Ons Kersfeeste was legendaries.
Die bakke en bakke vol kos en triffle vir poeding en persente nadenkend uitgesoek. Bowenal onthou ek dat Ma nooit toegelaat het dat ons vergeet waaroor Kersfees werklik gaan nie en die kerssangers wat oukers aande by die huise kom sing het. 2025 se Kersfees was dit net ek en Moeder. Ek het elke gereg gemaak soos Ma dit altyd gemaak het en Ma het dit raakgesien en waardeer. Oukersaand het ek en Mamma saam op die bank gesit en kersliedjies luister en toe stille nag speel het ons hande vasgehou en saam gesing. Ons het later gaan kers liggies kyk in die strate..
Kersdag was Ma heeldag by my terwyl die reuk van Kersfees kos die huis gevul het. Na ete het ons langs mekaar op die bank gele. Ma het na my toe gedraai: Dankie vir jou tyd Amanda. Dis die grootste geskenk wat mens iemand kan gee. Jou tyd.
Donderdag 1 Januarie het ek soos gewoonlik Ma se kamer binnegestap.
Ma het op die bed gelê met half toe oë .”Halo daar. Dis opstaan tyd”. Ma het skalks geglimlag en vreemd asem gehaal. Ek het tot by Ma gestap en my hand op Ma sin gesit. Ma het my hand gedruk. Ek het Die Here is my Herder van Min Shaw saggies gespeel. Skaars 15 minute later het Jesus Ma in sy arms opgetel. Ma het soos ‘n engel gelyk – gelukkig en tevrede.
Dit was ‘n eer en voorreg om by Ma te wees in Moeder se laaste oomblikke op aarde. Hand aan hand nes die spesiale oomblik tydens Stille nag. Dankie vir Ma se voorbeeld en leringe en ons spesiale oomblikke saam en ek belowe ek sal nooit my hand uit God se hand uit haal nie.
Liefde Amanda – Ma se Babe
Explore/Kuier verder
- Kosreise met resepte en kos stories – Food travel with recipes and stories about food
- Die Naguil is ‘n gratis aanlyn koerant wat maandeliks op die webblad verskyn. – Online newspaper
- Stories – reis stories, trein stories, kos stories, polisie stories, kombuis stories
- In-depth investigations – In-diepte ondersoeke.
- Teetyd kuiers – Teatime chats – Light hearted chats
- Begin jou eie webblad met WordPress – start your own website
- We also publish original articles, stories and opinions in English
Discover more from Amanda Skrywer
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Tannie Frannie
20 January 2026 at 4:55 amInnige simpatie met jou onherstelbare verlies, Amanda. Jou mammie was bevoorreg om soveel tyd en aandag van jou te ontvang.
Amandaskrywer
22 January 2026 at 9:13 pmBaie dankie. Dit was ‘n voorreg om my Ma vas te hou terwyl sy haar laaste asem uit blaas. Ons was baie naby aan mekaar en ek het soveel by haar geleer. My hart is bitter seer maar dankbaar dat sy nie gely het nie. God is goed en ek sal haar in my hart saam dra. Dankie vir die omgee. Dit beteken vir my baie.