Ouma die prentjies beweeg nie
Ouma die prentjies beweeg nie. Dit was die eerlike woorde van my kleinseun (9) toe ek hom vra om die selfoon neer te sit en ‘n boek te lees. Uit die mond van die suigeling. Lees van boeke is vir my belangrik. Hulle moet tog leer om die prentjies in hulle koppe te vorm. Dit ontwikkel jong breine en help met kreatiewe denke.
Boeke kompeteer met selfone
Hierdie geslag kinders word groot in ‘n kits era waar alles vinnig beskikbaar is. Hulle hoef vir niks te wag nie en hoef ook nie te dink nie. Die foto en video beelde op die fone laat geen ruimte vir hulle eie prentjies vorm nie. Dit maak my ietwat onrustig. Hoe gaan hulle eendag besluite neem of gevolge voorsien?
“Ongeag ’n mens se ouderdom is dit fantasties om anders na die wêreld te kyk. Met elke boek wat ’n mens lees, word jou wêreld groter.” (Volksblad, 14 November 2011) Jaco Jacobs
Die Internet is ‘n skatkis van inligting, kennis en vermaak en dis nie te versmaai nie. Dit kan egter nie fisiese boeke vervang nie. Hierdie Ouma hou van lees en ek doen wat ek kan om my kleinkinders aan die lees te kry maar die kompetisie is GROOT. Ek probeer om tradisionele lees pret te maak. Hy en sy sussie (8) hou albei van rympies soos:
“Oom Olifant jou reuse dier, die mense lag vir hul plesier. Want waar het jy al ooit gehoor, van ’n stertjie van agter en ’n stertjie van voor.”.
Aanvanklik het ek die rympies vir hulle voorgelees. Nou gee ek die boek vir hulle en elkeen moet ‘n rympie lees vir Ouma. Dis ‘n druppel in die emmer maar hopenlik steek iets vas en ontwikkel hulle ook ‘n liefde vir lees soos hulle Ouma.
“The more that you read, the more things you will know. The more that you learn, the more places you’ll go.” Dr. Seuss
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you