Onvoorwaardelike liefde

Onvoorwaardelike liefde is soos God wil hê ons moet lewe.
My oudste dogter het in Graad 1 ’n atletiek dag by die skool gehad en ek het my hulp aangebied om uit te help by die koeldrank stalletjie. Daar het ek ander Ma’s ontmoet.
Een van hierdie Ma’s sou my lewe vir altyd verander
Ek wil haar identiteit beskerm so kom ons noem haar Saartjie. Ek het 2 dogters gehad en sy 2 seuns van dieselfde ouderdomme. Ons het mekaar dadelik gevind en ons kinders het net so lekker saamgespeel. Dwarsdeur ons kinders se grootword jare het ons vriendskap net sterker en sterker geword. Ons het mekaar se lief en leed gedeel – saam gehuil en net so lekker saam gelag. Ons het alles saamgedoen selfs saam kersbome opgemaak, ons kinders see toe gevat, pizza gemaak en video aande saam met ons kinders gedoen en die Internet ontdek met Mweb en Huisgenoot.
En toe gebeur dit
Saartjie sny uit tydens ’n gesprek. Ek dink eers dit is my verbeelding totdat dit binne ’n Supermark gebeur en die teller dink Saartjie is dronk. Ons is terug na haar huis toe en nadat ons die kinders voor ’n storie sit gemaak het, het ek vir haar gesê dat ek dink daar is ’n mediese fout met haar. Sy het na my gekyk en sag gesê: “Ek weet. Ek is so bang” en teen my aangeleun. Ons het vir ’n rukkie net stilgestaan met ons arms om mekaar en toe besluit om haar Dokter te bel.
Saartjie is gediagnoseer met breinkanker
Haar seuns was nog so jonk – 9 en 7 jaar oud. Saartjie is in Groote Schuur geopereer. Lang storie kort het sy pragtig herstel daarna en kon sy haar kinders deur matriek sien. Steeds het ons ’n vol vriendskap gehad. Drie jaar gelede was die kanker aggressief terug en is sy geopereer om die gewas te verwyder. Hierdie keer het dinge lelik skeefgeloop.
Uit respek vir haar en haar familie kan ek nie in detail ingaan oor wat alles verkeerd gegaan het nie
In daardie stadium was albei haar seuns in die Kaap met hulle eie gesinne. Haar man het my gebel en ek is inderhaas na hulle toe. Dinge het sleg gegaan en sy was baie swak. Inderhaas het eers haar 1 seun en toe die ander met hulle gesinne teruggetrek huis toe.
Dit het lank geneem om aan hierdie ander Saartjie gewoond te raak en haar vriende het al minder geraak – dit was ’n ander mens. Elke keer wat ek haar besoek het, het ek gehuil wanneer ek weer terug was by my huis. Sy kon bykans niks onthou nie en tog het sy my onthou. Haar lewe bestaan nou uit sepies wat sy oor en oor op die bank lê en kyk terwyl haar man die hele huishouding en haar versorging op hom geneem het.
Haar onvoorwaardelike liefde vir my het die deurslag gegee
Elke keer wanneer ek daar kom is sy so opgewonde soos ’n kind. “Ek is so lief vir jou Amanda – my beste vriendin”. Ek het die Here gevra om my te help om hierdie nuwe Saartjie beter te verstaan. Sepies kyk is nie my belangstelling nie – eintlik kyk ek min Televisie. Dit is egter haar wêreld – gister is verby en gaan nie terugkom nie. So wanneer ek daar is gesels ons min – ons kyk sepies en lewer kommentaar oor die karakters en wanneer ek terugkeer huis toe sê ek dankie Here vir Saartjie.
Alhoewel ons nie meer kan gesels oor gister se vriendskap en die lekker dinge wat ons saam beleef het nie het ons nou ’n nuwe verbeterde vriendskap. Sy leer my elke dag van onvoorwaardelike liefde en ek staan in verwondering oor die lig en liefde wat uit haar straal.
Discover more from Amanda Skrywer
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
scrapydo2.wordpress.com
31 October 2023 at 5:29 amAi Amanda, dis eintlik wonderlik dat die Here jul twee bymekaar gebring het. Daardie, net saam sit en oor sepie gesels hou haar in werklikheid aan die gang. Op oomblik is ek ook besig om elke Dinsdagoggend ‘n beste vriendin te besoek wat Altsheimers het en regtig amper weekliks versleg. Ons kyk TV en gesels oor boeke wat sy lees vir haar leesklub. Sy raak totaal deurmekaar maar ons kuier steeds ‘n hond uit ‘n bos. Ek maak meestal my eie koppie tee en partymaal maak sy vir ons. Staan by om te help want sy onthou nie altyd waar wat is of wat sy doen nie. Jy is werklik ‘n ligstraal vir jou vriendin.
Amandaskrywer
2 November 2023 at 7:49 pmDis goed om te weet daar is iemand anders ook wat deur dieselfde ding gaan. Dankie ook vir jou wat by jou vergeet vriendin staan. Dis nie altyd maklik nie. Soms is ek hartseer vir haar kinders en kleinkinders. Al wat mens kan doen is daar wees en onvoorwaardelik liefhe.