Naguil koerant uitgawe 9 van 2023

naguil koerant

Die Naguil koerant is ‘n aanlyn koerant wat weekliks op die webblad verskyn. Kliek op die blou skakel in die storie en dit sal jou neem na die oorspronklike storie.

Van die Redaktrise

Die winter is nou agter ons en alle aanduidings is daar dat hierdie ’n warm somer gaan wees. Ek is ’n winter mens en tog lok die sonnige weer my na ’n baie koue winter. Dit is darem net te lekker om weer buite te wees en die son op my vel te voel. My tuin is ietwat afgeskeep in die winter as gevolg van die ongure weer en nou doen ek my bes om weer op te vang. Ek moes weer aanpas om vroeg soggens – nog voor ontbyt in my tuin te werk voor die hitte van die dag my oorweldig. Daar is soveel blomme in my tuin – en net so baie onkruid. Ai. Tog is dit lekker om vroeg op te staan en te gaan stap en dan vir ’n uur of twee in die tuin te skoffel.
Ek het ook reeds begin met koekies bak vir die komende lang skoolvakansie en Kerstyd. In my huis is gemmerkoekies boaan die lys en daarna sjokolade koekies. Die kleinkinders help fluks en prop ’n hele paar in hulle monde voor die ander blik toe gaan.
Hierdie maand is Dana Snyman onder die skrywer kollig. Alhoewel sy boeke nie literêre pryse wen nie word sy boeke wyd gelees en tereg so. Verder is daar lekker lag en goedvoel stories. Geniet hierdie 9de uitgawe van 2023 van die Naguil koerant en dankie vir die positiewe terugvoer.
Tot volgende keer
Amanda

Skrywer kollig

“Wat ek probeer doen, is ek probeer net mense raaksien. En natuurlik gaan jy Afrikaners raaksien, want jy’s self een; so, jy ken hul swak plekke en hul sterk en mooi goeters. Ek dra ook maar die swakheid en alles van die Afrikaners in my rond.” (Die Burger, 4 Mei 2007)

Dana Snyman het  nooit regtig gedink hy sou ’n skrywer word nie. Volgens hom kon hy nie eers ’n ordentlike opstel skryf nie. Na skool het hy as sekuriteitswag gewerk wat vir hom baie vervelig was. Nadat hy sy diensplig gedoen het, het hy werk in ’n boekwinkel gekry. Selfs dit het hom verveel en toe begin hy ’n onwettige sjebien agter in sy erf.

Op ’n dag besluit hy toe dat hy baie hou van koerant lees en skryf homself in vir ’n joernalis kursus by die Technicon en bingo! Daar begin deure vir hom oopgaan as rubriekskrywer by Die Huisgenoot en later die WEG. Sy eerste boek Uit die Binneland – ’n keur van sy rubrieke is in 2005 gepubliseer en was ’n weghol sukses. Hy is bekend vir die hoeveelheid detail in sy boeke en sy aanhangers is getrou en lojaal.

“Ek het geen literêre ambisies nie, jy kan in my hart inkyk. Elkeen moet besef waar hy in die groter skema inpas, ek sal nooit naby die Karel Schoemans kom nie. Maar ek kry ’n kick as iemand sê hy lees my rubrieke vir sy vrou of my boeke laat die gesin lag.” (Sarie, Mei 2007)

Ou boek kollig

Die Hart van ons huis deur Marita van der Vyver is in 2006 gepubliseer en is pure genot om te lees. Dit vertel van haar lewe in Frankryk saam met haar Fransman Alain en hulle 4 kinders. Ek het dit geniet om te lees hoe dinge in Frankryk werk en nie werk nie. ’n Lekker geen fiemies boek.

Stories oor plekke en sy mense

  • ’n Joernalis het oor ’n basketbal storie verslag gedoen toe hy self ’n onverwagse doel aangeteken het.
  • ’n Vrou van Amerika het per abuis haar Airpod ingesluk in plaas van die vitamien pil wat in haar hand was. Lekker lag storie
  • Fran Anderson ’n 81 jarige Ouma het die Grand Canyon uitgeklim saam met familie en vriende ten spyte daarvan dat sy ’n leukemie lyer is. Wel, gedaan Ouma!
  • Ruimtemanne en vroue moet ook eet maar hoe gemaak as dit ’n heuning toebroodjie is? Sultan van die Emirate wys ons hoe dit gedoen word

Nuwe boek kollig

Poskaarte van ‘n reis is  ’n keur van Jacqueline Leuvennink se rubrieke en artikels wat oor ’n tydperk bymekaargemaak is. Dit bevat vertellings van haar vele reise na bestemmings waar sy vertel van haar ervarings en die mooi van die mense en landskappe wat sy besoek.

Skrywer sake

Dit maak nie saak of jy boeke, rubrieke, artikels of vir ’n webblad skryf nie. Dis altyd goed om jouself aanhoudend te verbeter. Hier is ’n paar gratis wenke om jou skryfwerk nog beter te maak.

Video kollig

Godsdiens en geloof is ’n leefstyl en meeste mense word groot met kerk toe gaan Sondae. In Ethiopië is daar ’n kerk bo-op ’n berg en gelowiges moet die berg uitklim om by die kerk te kom. Dit neem 45 minute om tot by die kerk te kom.

Grapjas

Musiek kollig

The Last Farewell ~ Roger Whittaker is hierdie maand die musiek video onder die kollig. ’n Meesterstuk!

Inspirasie

Die olifant se pianis is die pragtige verhaal van Paul Barton  ’n musikant met ’n hart vir olifante. Die olifante reageer op die strelende klanke van sy klavier daar in die wildernis. Hulle geniet duidelik die musiek en is glad nie aggressief nie. Paul het al in verskeie dele van die wêreld vir olifante gaan klavierspeel. Geniet hierdie 7 minute video en word meegevoer deur die musiek en die olifante se reaksie. Dis net te mooi

Diere sake

Sonny is ’n pragtige geel bottervis in die diepsee wat vriende gemaak het met ’n duiker Rachel. Hulle interaksie is iets om te sien.

Bybel vers

MATTEUS 5:5 AFR83 – Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

Vinnige Resep

Kaas en uie pizza

Naan brood (beskikbaar by PnP)
Tamatiepuree
Halwe ui opgesny
Cheddar kaas gerasper
Mozzarella kaas gerasper
Sout en peper

Smeer die een kant van die naan brood met die tamatiepuree. Versprei dan die opgesnyde halwe uit op die puree Volg dit op met die cheddar kaas en dan die mozzarella Sprinkel sout en peper na smaakBak by 180 C totdat kaas gesmelt is. Ongeveer 8 minute Geniet dit sodra dit uit die oond kom. Lekker!

Dankie vir die saam kuier. Terugvoer en versoeke word verwelkom. Tot volgende keer.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.