‘n Somer tuinroete Kersfees
‘n Somer tuinroete Kersfees is tradisioneel Suid Afrikaans. Warm dae. Roomys op die strand. Swem en see. Braai en slaaie.
Winter Kersfees
Soms beny ek die ander lande wat ‘n winter Kersfees het met sneeu, kaggelvure en nagklere met kersfees motiewe. Dit lyk so gesellig.
Die realiteit
Eintlik is sneeu baie koud en glad nie romanties nie. So ‘n paar jaar gelede was ek en my kinders in die Swartberge toe dit gesneeu het. Hulle wou ‘n sneeuman bou en sneeugevegte doen. Met ons aankoms het hulle vreeslik ywerig uit die motor gespring. Reg vir pret. Die geesdrif het nie lank geduur nie. Dit was snerpend koud en ons was duidelik nie reg aangetrek nie.
Somer Kersfees
Alhoewel ons nie die tradisionele winter Kersfees hier by ons kry nie het ons weer ander dinge wat Kersfees in Suid Afrika so spesiaal maak. Elke streek in Suid Afrika het hulle eie tradisies rondom Kersfees en die Tuinroete is spesiaal wat dit aan betref.
‘n Somer tuinroete Kersfees
Sommer al in die eerste week van Desember kan mens die nuwe energie voel. Motors met vreemde nommerplate. Skielik is daar minder parkeer plekke. Hier van November af begin die prys verhogings. Die hoofstraat se Kersliggies word om en by die 10de aangeskakel. Van 16 Desember af bly die permanente inwoners meestal tuis aangesien die strande oorvol is van vakansie gangers. Ek myself gaan eers hier by die 10de Januarie weer strande toe wanneer dit weer na normaal begin terug keer. Baie keer reën dit oor Kersfees in die tuinroete. Al het ons nie ‘n sneeubedekte koue Kersfees nie, is dit steeds groot eet op Kersdag en persente oopmaak op Oukers aand by Kerslig en Kers musiek wat in die agtergrond speel. En natuurlik het ons die see en sand met roomys waentjies en braaivleis vure waar tot laat saans gekuier word.
Kersfees is my gunsteling tyd van die jaar
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you