‘n Geheim

'n Geheim

“Ek wil jou ‘n geheim vertel, moet asseblief vir niemand vertel nie”. “Jy kan my vertrou, wat is die geheim?”

En so maklik vertel jy jou diepste geheime aan iemand wat jy vertrou en te dikwels verraai die mens wat jy met jou geheim vertrou het jou – doelbewus of per ongeluk. Die skade is gedoen.

‘n Geheim is nie tussen twee of meer mense nie.

Dis menslik

Ons is mense met gevoelens en soms het jy die behoefte om iets met iemand te deel. Dit kan persoonlike lief en leed wees, werksprobleme, moontlike bevordering, iets onwettig of selfs drome en ideale wees. Die ontvanger/s van jou geheim sit dan met die mag om jou te sink, te verraai, onmin te saai of om jou geheim veilig te bewaar.

Dis ‘n risiko

Daar bestaan nie so ‘n ding soos ‘n ondeurdringbare veilige geheim tussen twee of meer mense nie. Die enigste manier wat ‘n geheim werklik ‘ n geheim kan bly is wanneer jy dit vir jouself hou en met niemand anders deel nie. Geskok? Moenie wees nie. Hoekom die kans vat dat jou geheim uitgelap kan word?

Riller stories

Daar is net te veel ware verhale van mense (ek ingesluit) wat dinge vir ander vertel het net om agterna ontnugter te word.

Daar is maniere

Dis menslik om jou geheim met iemand te wil deel. Praat met jouself. Dis reg – vertel jou geheim vir jouself. Staan voor die spieël en vertel jou diepste geheime vir die mens in die spieël beeld. Jy sal beter voel en daardie mens sal jou nie in die steek laat nie. Jy kan ook ‘n brief vir jouself skryf en verbrand agterna of selfs vir jou hond of kat en as jy sonder diere is vertel jou geheim vir die boom of blomme in jou tuin.

Jou geheim is veilig by die mens in die spieël.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.