Moenie als vertel nie
Ek het niks om weg te steek nie en juis daarom was ek altyd geneig om maklik oor enige iets te praat: my drome, ideale, doelwitte, vrese. Met die tyd het ek egter geleer moenie als vertel nie. Daar is altyd iemand wat sit en wag om jou te verraai of jou drome te steel.
My eerste ontnugtering
Jare gelede toe ek nog op skool was het ek ‘n mondeling geskryf en een van my vriendinne het dit deurgelees vir foute en ongesiens my mondeling oorgeskryf. Sy het dit die volgende dag voor in die klas voorgedra en voorgegee dat sy dit geskryf het. Ek het na die onderwyser gegaan en my saak gestel en ek is beskuldig dat ek die ene was wat die mondeling gesteel het. Die vriendin was so oortuigend dat haar woord bo myne aanvaar is.
Goedgelowig
Ek was altyd baie goedgelowig totdat iemand eendag vir my gesê het dat net omdat ek ‘n eerlike opregte mens is, beteken dit nie dat almal so is nie. Ek moes dit telkemale op die harde manier leer totdat ek die waarheid van die woorde besef het en my manier van doen verander het.
Werk situasies
Ek het die fout gemaak om vir een van my mede werkers te vertel hoe ek beplan om dinge by die werk te verbeter en die betrokke persoon het my plan as ‘n voorlegging aan die Baas gemaak en bevordering gekry.
Familie en Vriende
Ek het ‘n sensitiewe familie aangeleentheid tussen my en 2 ander familielede met ‘n nabye familielid bespreek en sy het omgedraai en dit vir die ander twee gaan vertel wat ‘n hengse familie onenigheid veroorsaak het wat na 4 jaar steeds gevolge het.
Hoe nou gemaak?
Dit het baie trane, stampe en stote gekos. In 2017 het ek besluit om my manier van dinge doen te verander. Ek het ‘n definitiewe besluit geneem (en ek hou daarby) om nie een familielid met ‘n ander te bespreek nie. Ek bespreek ook nie my drome, ideale en vrese met enige iemand nie. Vier jaar later weet ek dit was die beste ding wat ek vir myself kon doen
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you