Jy kan nie vir jouself jok

Jy kan wegkom daarmee om vir ander jok. Jy kan nie vir jouself jok nie.
Jare gelede in die middel van my sukkelende jare as enkelouer het ek in ‘n slegte emosionele plek beland. Ek het gesukkel met kinders groot maak, huis hou, die pot aan die kook hou en het nie geld vir tuindienste gehad nie. My kamer is aan die agterkant van die huis en ek het die gordyne heeltyd toegehou en nooit buitekant toe gegaan aan die agterkant nie. My gedagtegang op daardie tydstip was dat indien ek dit nie kan sien nie, bestaan dit nie. Kuiergaste het ek weggehou met verskonings. Ek kon egter nie vir myself jok nie en op ‘n dag moes ek die gemors in die oë kyk en iets daaraan doen.
Dit kan erger wees
Dikwels lees ‘n mens in die koerant van iemand wat geld by die werk verduister het en vir meer as tien jaar daarmee weggekom het sonder dat iemand daarvan geweet het. So ook mense wat hulle lewensmaats verneuk en selfs tweede families het. Ek wonder dikwels of hulle nie ook soms (soos ek) begin skuldig voel en dit probeer regstel nie. Dit wil lyk of sommige mense gemaklik is in hulle leuens.
‘n Ander mens
Daar is ook die mense wat op ‘n dag net verdwyn en dan ‘n ander lewe op ‘n ander plek gaan begin en ‘n hele nuwe lewe met ‘n nuwe identiteit vir hulleself bou. Dit terwyl hulle vrou en kinders rasend van bekommerd is en mense uit hulle pad gaan om die vermiste op te spoor. Dis verstommend. Selfs as jy wegkom met dinge kan jy mos nie vir jouself jok nie. Iewers binne in jou moet jy weet jy is besig met leuens.
Ek sal nie met myself kan saamleef indien dit ek is wat twee lewens ly nie. My gewete sal my opkeil. Het so iets al met julle gebeur of weet julle van iemand met wie dit gebeur het. Ek sal graag daarvan wil hoor. Gooi ‘n nota in my posbus dan gesels ons verder.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you