Iemand verjaar vandag

Iemand verjaar vandag

Iemand verjaar vandag en die kleinkinders is baie opgewonde. Koek, koeldrank, kleintjies maak dit groot en prettig. So asof dit hulle is wat verjaar.

Ouma Amanda verjaar

Verjaarsdag saam met kleintjies kan uitputtend maar ook vol pret wees soos ek so pas uitgevind het. Dis vandag my verjaarsdag en die kleintjies vier dit saam met my terwyl ek in die aand ‘n grootmens tee en koek doen. Daar moet altyd ‘n koek wees. Sjokolade koek met baie icing. Die vorige aand het ek ‘n maaskaas sjokolade koek gebak met ganache versiersel bo-op. 2 Groot blokke sjokolade en vars room. Die koek is in ‘n ring koekpan gebak. Ek maak die koekblik oop en my kleinseun sê: “Miemie kyk, Ouma het ‘n donut koek!” My glimlag strek reg rondom my kop. Eintlik was die ring koek bedoel om strawberries in die middel te sit…

Nog eetgoed

Behalwe die donut koek het die verjaarsdag eetgoed bestaan uit pasteitjies wat mens met die hand kan eet, aartappelskyfies, sjokolade balletjies, kaas happies en koue vleis. Dis ‘n koningsmaal vir twee hongerige kleintjies. Oja en strawberries wat geëet word nog voordat dit in die middel van die donut koek gesit kan word. Roomys in gas koeldrank. Twee baie geesdriftige gaste sing luidkeëls Happy Birthday en Veels geluk deurmekaar. My kleinkinders is half Engels en half Afrikaans. Hiepeep Ouma!

Soentjies en drukkies

Die heeldag speel en eet ons. Die verjaarsdag wentel om die kleintjies terwyl ek tonne drukkies en soentjies kry. “Ouma I love you”. “Ouma kom ons gaan parkie toe” Hierdie Ouma kan nie moeg raak nie. Daar is kleintjies en parkies waarnatoe ons moet gaan. Terug by die huis is my twee gaste weer honger en dors en so begin alles weer van vooraf. Minus die gesingery. Met huis toe gaan tyd kry elkeen ‘n kospad pakkie vir later. Met ‘n laaste Love you Ouma wuif ek hulle totsiens. Vir die eerste keer vandag sien ek my hond Millie. Sy het weggekruip vir die lawaai. Ek val op die bank neer met ‘n glimlag op my gesig. Die stilte is hemels.

Iemand verjaar vandag

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.