Grys hare

grys hare

Grys hare is ‘n persoonlike keuse. Soms weens ouderdom. Ander kere is dit ‘n mode gier. Deesdae is grys hare hoog mode veral onder die jonger geslag. Vroeër jare wou geen mens die huis verlaat met grys hare nie. Dit was simbolies met oud wees en niemand wou so ‘n stigma aantrek nie.

My grys storie

Ek kom uit ‘n familie aan my Ma se kant wat vroeg in hulle lewens grys geword het. My Tannie was skaars 30 toe was sy al spierwit grys en is dikwels as ‘n Ouma gesien by haar kinders se skool. Ek was 23 jaar oud toe ek die eerste grys haar gewaar het. Ek was oorgewig en wou nie nog grys en oud ook wees nie. Ek het begin om my hare te kleur. Later was my hare dof en sonder sprankel. Steeds het ek volgehou met kleur. Salon kleursel was duur en later kon ek dit net nie meer bekostig nie en het ek die boksie kleur begin doen.

Genoeg is genoeg

In 2013 was my hare dor en uitgedroog met onooglike spatsels boksie kleursel. Ek het altyd gesê dat ek te jonk is om met grys hare te loop. Op ‘n dag het ek egter ‘n ooreenkoms met myself gesluit. Ek sou my hare laat uitgroei en dan die reënboog hare laat uitknip. Vir 6 maande daarna sou ek die grys hare ‘n kans gee en daarna besluit of dit permanent of tydelik sou wees.

Gelukkig en tevrede

Sewe jaar later het ek steeds grys hare. Ek is mal daaroor. Ek wissel die style: dan kort, dan lang hare, bob of bossiekop. Ek kan geen nodigheid daarvoor sien om weer my hare te kleur nie. Wanneer jy nie die finansies het om jou hare professioneel te laat kleur en versorg nie, lyk jy verslons en onversorg. Dis elkeen se eie keuse en my keuse is om my natuurlike grys hare te omarm. Dis wie ek is.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.