Teetyd kuiers – Geskenke en sjokolade
Welkom by Teetyd kuiers. Ontspan lekker met ‘n koppie tee en gesels saam
Geskenke en sjokolade is mos darem wat die Kerstyd so spesiaal maak. Altans dis so in ons familie. Ons het grootgeword met ’n Kersboom en geskenke onder die boom. Baie van die geskenke was handgemaak. Die geskenke was altyd mooi toegedraai met Kerspapier, linte en strikke en ’n persoonlike kaartjie.
Geskenke maak my opgewonde en laat my goed voel
Dis eintlik die papier en die mooi toedraai van die geskenk wat my aantrek. Ek gee nie om oor die waarde van die geskenk nie, dis die hele proses wat vir my so lekker is. My Tannie het eenkeer vir my ’n koevert met geld ingegee vir my verjaarsdag en ek was diep bedroef. Daar is dan niks om vas te hou, te bewonder en te raai nie. En waar is die mooi papier?
My kleindogter het vir my verjaarsdag vir my papier juwele gemaak en dit in mooi papier toegedraai. Ag dit was te lekker om die geskenk oop te maak en die kosbare juwele uit te haal. Die vreugde op haar gesig te sien toe ek aangedaan raak. Dit is die lekker daarvan om ’n geskenk te kry en oop te maak.
Wat is ’n geskenk sonder sjokolade?
Dit maak nie saak of dit ’n plak sjokolade of net ’n blokkie is nie. Sjokolade kan selfs die geskenk wees, feestelik toegedraai. Vreugde in oorvloed. Kerstyd maak ek my eie sjokolade vir die kleinkinders en sit dit binne-in ’n Kersvorm of bal. Elke sjokolade is feestelik toegedraai met gekleurde foelie. Dis ’n groot lekkerte om te sien hoe hulle die tuisgemaakte sjokolade uit die mooi foelie uithaal, die vorms bewonder en eet en dan met die foelie speel.
Vir my Ma maak ek graag Turkse lekkers en dip net die punt daarvan in donker sjokolade en verpak dit in ’n handgemaakte boksie, toegedraai met Kerspapier. Dis lekker om mooi geskenke en sjokolade vir ander te gee en net so lekker om dit te ontvang. Met liefde gemaak en toegedraai
My wens vir elkeen van julle is om hierdie feestyd ’n mooi toegedraaide geskenk te gee en te ontvang. Vat daaraan en druk dit teen jou hart.
Every gift which is given, even though it be small, is in reality great, if it is given with affection. Pindar
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you