Die Internet kan wreed wees

Die Internet kan wreed wees

Die Internet kan wreed wees. Daar is soveel goeie mense op die Internet maar ongelukkig is daar ook diegene met slegte bedoelings.

My reis na die Internet

In 1995 kort na my man se dood is ek voltyds terug Kollege toe waar Rekenaars een van my vakke was. Die 3 jaar kursus het my lewe positief verander. My belangstelling in Rekenaars het nuwe moontlikhede oopgemaak en in 2000 het ek in Internet kafees begin kuier totdat ek in 2002 Internet by die huis gekry het.

My reis op die Internet spoor

Dit was ‘n reis met ongelooflike moontlikhede en informasie – my gunsteling. In my kinder en jongmens jare het ek ensiklopedieë gelees. Ek hou van feite, geskiedenis, nuuswaardighede. Die net het dit en vermaak gebied – ek was in my element. Veiligheid en sekuriteit op die Net was nie iets waaraan ek eintlik gedink het nie. Behalwe antivirus sagteware. En toe gebeur dit

Een mens ontspoor my

Baie gou was ek aktief by verskeie dinge op die Internet betrokke: geselskamers, forums, groepe. Een ding het tot ‘n ander gelei en ek het ‘n webblad begin waar ek geskryf het oor alles en nog wat. Dit was alles goed en wel tot een Saterdagoggend. Soos elke ander dag het ek met my oggend koffie voor die rekenaar gaan sit om my eposse te lees. Daar was 1 epos wat uitgestaan het. Opgewonde het ek die epos oopgemaak en amper my koffie oor die rekenaar uitgestort.

Die woorde wat my laat vries het

“”Hi Amanda so happy to meet you. How is (my dorp se naam) and your neighborhood (die korrekte naam)? Oh and how are your children? (hy noem toe albei my kinders se name), I had a long conversation with your Mother (hy noem haar naam). She lives in the beautiful town of (en hy noem haar dorp), Your Mum told me that you are a widow and lives alone with your children. Lovely Mother you have

Alhoewel ek aktief op die Internet betrokke was onder my eie naam het ek nie sulke persoonlike inligting bekend gemaak nie

Dus het hy die inligting iewers gekry. Ek het my Ma gebel en nog voordat ek kon uitvrae het sy my opgewonde vertel van die gawe man met wie sy op die foon gepraat het. Hoe en waar hy haar naam en nommer gekry het was ‘n raaisel. Twee dae later het ek na die Oprah show gekyk en soos die Here dit wou hê het die program oor Internet veiligheid gegaan. Daar was ‘n tiener meisie wat ‘n foto van haar op die Net geplaas het, Sy is hierna ontvoer en verkrag. Tydens die hofsaak het dit uitgekom dat die man wat haar ontvoer het die foto gebruik het om haar te vind. Die agtergrond van die foto het bakens gewys en selfs ‘n straatnaam.

My hart het in my skoene gesink

Ek het deur my webblad gegaan. Daar was ‘n foto van my, My Ma en my kinders waar ons padkos langs die pad eet met my Ma se motor en nommerplaat duidelik sigbaar. My kinders was in hulle skool klere met die skool se naam en wapen ook duidelik sigbaar. Ek was verlam van vrees. Die raaisel was opgelos. Ek het onwetend ‘n onsuiwer karakter in my en my familie se lewens ingebring.

Die einde van my Internet onskuld

Ek het onmiddellik alles van my webblad verwyder, dit gesluit en my teenwoordigheid op die Net nagegaan en verwyder wat ek kon. Alhoewel ek steeds op die Internet gegaan het, het ek dit nou onder ‘n skuilnaam gedoen en nie meer deelgeneem aan die groepe nie. Ek het desperaat probeer om die man verantwoordbaar te hou – dit was hopeloos. Volgens my Ma was hy van Amerika.

Veiligheid vir my en my familie het voorrang geniet en was ononderhandelbaar.

Dit het my jare geneem voordat ek die moed gehad het om weer te probeer om ‘n tuiste op die Internet te bou.. In 2017 het ek begin kyk na die moontlikheid om weer ‘n webblad te begin. Ek het deur die jare ander soortgelyke insidente op die Net en sosiale media gesien en geleer uit hulle en my eie foute. Geen Foto’s of inligting van my familie en vriende en enige iets wat hulle of my ligging kan identifiseer word geplaas nie. My kleinkinders het skuilname en alhoewel ek hier en daar persoonlike dinge deel, vermy ek dit om te veel te vertel. Ek is ook nie aktief op sosiale media nie. Ek is versigtig. Nie paranoid nie.

‘n Liggie wat helder skyn

Tydens my soektog het ek op ‘n webblad beland wat my hoop gegee het om oor my vrees te kom. Toortsie se webblad het ‘n magdom inligting gebied en vir meer as ‘n jaar lank het ek annoniem deur die webblad gelees. Daar was raad wat nuttig was rondom die bedryf van jou eie webblad soos Hoe ek my blog bedryf en soveel meer. Dankie

My vrees word ‘n vreugde

Op 1 September 2019 het my webblad Amandaskrywer waaraan ek vir amper ‘n jaar gewerk het die Internet amptelik betree. Onder my eie naam. Die internet kan wreed wees, maar die trol wat my tydelik verlam het, het nie gewen nie. My vrees is nou omskep in vreugde.

2 Comments

  1. Toortsie

    11 April 2022 at 10:10 am

    Liewe Amanda. Dankie dat jy na my verwys. Jong, ons waag maar baie met ons skrywes op die internet, maar ons moet lewe ook. Mag ons nog lank ‘veilig’ blog en mag ons mense veilig wees.

    1. Amandaskrywer(Aduppie)

      11 April 2022 at 9:29 pm

      Jou webblad het my baie gehelp en my selfvertroue ‘n hupstoot gegee.Dankie weereens

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.