Eendag as ek groot is
Eendag as ek groot is sal ek als reg wil doen. Minder omgee wat ander van my dink. Meer lag en myself minder ernstig opneem.
Vlieg hoog
Tydens my hoërskool jare kon ek nie wag om uit die huis te kom en my eie potjie te krap nie. Die kleindorpse bestaan en my streng ouerhuis was net eens te veel. Ek wou hoog en vêr vlieg. Nie ‘n bang haar op my kop nie.
Daar gaan ek
Uiteindellik breek die dag toe gaan. Ek klim alleen op die trein Pretoria toe. Polisie kollege. Dit is o so wonderlik om te kan doen wat en wanneer ek wil. 1ste ontnugtering staar my in die oë letterlik en figuurlik. Van een diktatorskap na ‘n ander. Die Polisie sersant betoon geen genade nie. Die einde van die maand kry ek my 1ste salaris tjek. Baie geld. Presies R526,35. Saterdag kan nie gou genoeg gebeur nie.
Saterdag
Teen 08:00 klim ek op die bus Sunnyside toe. Vandag gaan ek koop tot ek omval. Ontbyt in die Wimpy. Net na 4 die middag stap ek weer my kamer binne in die Polisie kollege. So trots op myself. Nuwe klere asook ‘n nuwe radio en ‘n klompie ander goed. Bly en tevrede. Die lewe is goed so op my eie sonder Ma se vermanings.
Twintig dae later
My tandepasta is op en ek het niks geld nie. Die meisies maak gereed om te gaan fliek en dans en ek pleit siekte. Te skaam om te sê ek het nie geld nie. Ek is misrabel en kry myself vreeslik jammer. Hoe kon ek so dom wees? Ek het nie ‘n begroting vir die maand uitgewerk nie want vir die eerste keer in my lewe het ek ‘n spul geld gehad. Hoe kon dit so vinnig opraak? Ek klim in my bed en trek die laken oor my kop. 2de ontnugtering.
Die jaar is 2021
Dis dertig jaar later en nou kan ek vir myself en my arrogansie lag. Ek was net 19 jaar oud en wou nie na goeie raad luister nie. Deur die jare het ek egter geleer wat werk en wat nie. Dalk was daar meer as net ek wat die 1ste salaris tjek uitgegee het sonder om te begroot. Dertig jaar gelede het ek gedink ek kan nooit weer my kop by die deur uitsteek oor my onbesonnenheid nie. Ek het myself vir maande daarna nog gekasty. Wat sal die mense sê? Nou sit ek agteroor met ‘n koppie tee of ‘n sherrie in die hand geniet my tuin.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you