Somerkersfees sonder see en sand
Suid Afrika se kersfeestyd is nie sneeu bedek met kuiers rondom kaggels soos in sekere ander lande nie. Nee, ons kersfeeste is gevul met somer, son, see, sand, sonsambrele en kinders wat sandkastele bou. Desember 2020 was egter heel anders met ‘n algehele verbod op strande in sekere dele van die land en beperkte toegang in ander dele. Die drastiese maatreëls is ingestel weens die styging in COVID 19 gevalle. Dit het beteken ‘n somerkersfees sonder see en sand terwyl die son se strale helder en warm buite skyn.
![somerkersfees](https://i0.wp.com/www.amandaskrywer.com/wp-content/uploads/2021/01/sand-castle-421501_640.jpg?resize=640%2C426&ssl=1)
Die besluit van Oom Rhamaphosa en sy raadgewers so kort voor Kersfees het baie vakansiegangers en winkel eienaars in die kusdorpe die harnas ingejaag en paniek gesaai. Ouers het nie geweet wat om met hulle kinders te doen wat heeljaar uitgesien het na die jaarlikse seevakansie nie. Winkel eienaars het in paniek gekyk na hulle volgepakte store terwyl gastehuise desperaat probeer het om die talle kansellasies te keer.
Strande in die Noord Kaap bly oop
Groot was die verbasing dat die strande in die Noord Kaap mag oop bly aangesien daar min infeksies in daardie gebied is. Ek het 10 jaar in Kimberley gebly en nooit geweet daar is ook see en sand nie en blykbaar is ek nie die enigste (onkundige) ene nie. Verskeie mense het ook hulle verbasing hieroor uitgespreek. Die bekendste strand in die Noord Kaap is Port Nolloth en baie gewild onder die mense in omliggende streke. Skielik is die Noord Kaap se strande die ding waaroor mense praat. Blykbaar is die water baie koud in daai gewenste alhoewel dit die laaste ding is waaroor mense nou kla.
Mense met planne
Nadat stoom afgeblaas is oor die kontroversiële besluit, het sommige mense dadelik opgepak en teruggery huis toe terwyl ander besluit het om die beste van ‘n slegte saak te maak. Die Tuinroete se opblaas swembaddens is skielik uitverkoop en opgeslaan in kampeerterreine terwyl ander besoekers gaan voete natmaak het in nabye riviere.
Kersfees 2021 is nog ver met geen aanduiding hoe dit gaan afspeel nie. Een ding is egter seker en dit is dat die see nêrens heen gaan nie en steeds op sy plek sal wees in Desember 2021. Kyk mooi na jouself en jou mense en as als goed gaan kan ons weer volgende jaar se Somerkersfees saam met familie en vriende op die strand kuier.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you