Dis tyd vir verandering

dis tyd vir verandering

Dis tyd vir verandering en 2022 is die jaar om dit te doen. Stagnasie is verby en aanpassing, verandering en herbesin is hier.

Verandering is onvermybaar

Verandering is orals. Vandag besoek jy jou gunsteling winkel en môre is daardie selfde winkel toe en word jy gedwing om jou inkopies elders te doen. Op jou troudag is jy gelukkig en tevrede. Jy het jou sielsmaat gevind en niks anders maak meer saak nie totdat jy 7 jaar later voor ‘n graf staan met 2 klein kindertjies wat krampagtig en bang aan jou rok vasklou. Skielik is niks meer seker nie en tuimel jou bekende wêreld in duie. COVID 19 het nie net ons lewens ontwrig in 2020 nie, dit het ons lewens verander.

Stagnasie hou jou terug

Praat van die virus. Verskeie mense het die idee dat ons weer na normaal gaan terugkeer sodra die virus op sy plek gesit is. “Ek kan nie wag om weer my ou lewe te hervat nie” is woorde wat dikwels in geselskap rondgegooi word. Ons is naïef om te dink dat dinge presies gaan wees soos voorheen. Dit beteken egter nie dat ons nuwe lewe slegter gaan wees nie. Nou is eerder die tyd om vriende te maak met verandering en nuwe moontlikhede te ondersoek en te ontdek. Mens weet nooit wat wag wanneer jy ‘n kans vat op wat verandering bied nie.

Berei voor vir verandering

‘n Klompie jare gelede was ek vasgekeer in my eie kokon. Iemand het voorgestel dat ek die boek Who moved my Cheese lees. Die boek is geskryf deur Spencer Johnson en spreek die vrees vir verandering aan. Dit is aanvanklik bedoel as ‘n boek om mense in die besigheids wêreld te lei en te leer. Dis ‘n klein boek wat maklik lees. Hierdie boek het my lewe vir altyd verander. Ek is nie meer bang vir verandering nie en neem verantwoordelike kanse.

Verandering in 2022

Dit is duidelik hoe dinge besig is om te verander rondom ons en dat aanpassing noodsaaklik is om te oorleef in ‘n veranderde wêreld. In my persoonlike kring is baie veranderinge aan die kom.

  • My kleinkinders gaan in 2022 voltyds skool toe. Graad 1 en Graad R.
  • Ek kry al my oggende terug. Die kleintjies het 2 keer ‘n week voldag by my gekuier. Nou is hulle groot.
  • Een van my naby familie lede se seun en sy vrou het reg oorkant hulle huis gekoop en beplan ook hulle eerste kleinding.
  • Hierdie jaar begin al die aktiwiteite soos die lees en ook die groepe weer met veranderings in hulle aanbiedings.

Dis tyd vir verandering

In plaas daarvan om depressief en kwaad te word oor dinge nie meer in ons normaal legkaart pas nie, sal ons moet aanpas en soos die karakters in Who moved my Cheese, ‘n nuwe legkaart ontwerp en heeltyd op die uitkyk wees vir verandering en hernuwing. Aanvanklik kan die moontlikheid van verandering vreesaanjaend wees. Haal diep asem en sien die moontlikhede. Raak opgewonde oor die nuwe dinge wat na jou kant toe kom. Raak opgewonde en gryp die nuwe geleenthede met albei hande aan.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.