Dis ‘n sensitiewe onderwerp
Opiniestuk
Voëltjies skop hulle babas uit die nes uit sodra hulle groot genoeg is om te vlieg. Letterlik en figuurlik. Die mensdom is nie so wreed of so slim nie.
Dis ‘n sensitiewe onderwerp
Dis nie iets waaroor ouers graag praat nie en wanneer hulle wel daaroor praat is dit meestal verdedigend en om hulle besluit te regverdig hetsy vir of teen die hoender op die nes.
Die hoender op die nes
Deesdae is dit nogal algemeen om mense van 35 te sien wat nog by hulle ouers bly. Sommiges werk. Meestal is die kinders werkloos of hulle beweer dat hulle sieklik is, hulle drome najaag, werk soek met die verkeerde velkleur as verskoning of op die internet “werk” terwyl hulle geen finansiële bydrae tot die huishouding maak nie en in baie gevalle selfs uit hulle ouers se sakke leef. Talle van hierdie volwasse kinders was nie eers ‘n koppie in hulle ouerhuis nie en kom en gaan soos hulle lus het en die ouers kyk magteloos toe.
Die voëltjie verlaat die nes
Sommige kinders verlaat hulle ouerhuis direk na matriek en kry dit reg om te oorleef deur te werk al is dit by die kafee op die hoek en huur ‘n kamer. Hulle is selfonderhoudend en oorleef sonder om hulle ouers te verwyt of te krepeer van ellende.
Soms ruk dinge hand uit
Meeste volwasse kinders wat nog by hulle ouers bly is op hulle ergste parasiete en meester manipuleerders, maar soms gaan dinge net te ver. In November 2016 het die enigste seun (30) van Joel en Lisa Guy sy ouers vermoor en opgesny nadat hulle hom finansieel afgesny het om hom sodoende te dwing om op sy eie voete te staan. Met die Polisie se aankoms het hulle Lisa se afgesnyde kop in ‘n pot op die stoof gekry terwyl die res van haar liggaam en die van haar man Joel in bakke met suur gevind is. Die Polisie het ook beslag gelê op die seun se dagboek waarin hy alles haarfyn beplan het met die skokkende sin: Die geld is myne, alles is myne. Skokkend.
Vroeër jare
My Ma (83) vertel my hoe jongmense in haar tyd ook by hulle ouers gebly het veral dogters totdat hulle gaan trou het. Baie van hulle het al op 15 begin werk. Die seuns het ambagte beklee waarvan talle by die spoorweë in ander dorpe. Die jongmense van daardie tyd het ‘n karige salaris verdien, hard gewerk en of kamers gehuur by ander mense of vir hulle ouers huur betaal.
Wat het gebeur?
Tussen die vorige generasies en die tyd waarin ons nou leef het dinge lelik skeefgeloop. Alhoewel daar uitsonderings en selfs suksesverhale is, is daar meer mislukkings.
Manipulasie
Wanneer mens stilbly en waarneem kan jy die manipulasie komende van die “kinders” duidelik sien. Daar word op ouers se gevoelens gespeel en eise gestel. Ouers is nie bestand teen hulle liefie kinders nie en gee in.
Ouers is bang
Dis ongelukkig so dat ouers bang is om hulle bloedjies teen te gaan. Ouers kom met die een na die ander verskoning op om hulle groot hoenders op die nes te regverdig. Eintlik is ouers net bang dat hulle kinders hulle sal verwerp indien die ouers ‘n standpunt inneem.
Die resultate
Ouers probeer ‘n positiewe, vrolike beeld na buite uitstraal en verdedig hulle kind verbete met allerhande verskonings. In werklikheid voel die ouers soos ‘n mislukking. Die kind neem nie verantwoordelikheid nie en maak hom of haarself wys dat die optrede geregverdig is. Hulle is dan die slagoffers van hulle omstandighede.
Reg of verkeerd
Myns insiens is daar sommige gevalle waar inwonende volwasse kinders ‘n positiewe gesindheid toon. Ongelukkig val die oorgrote meerderheid van die volwasse kinders nie in hierdie groep nie. Dit hang dan van die ouers af hoeveel hulle bereid is om te verdra van hulle volwasse kinders en of hulle bereid is om die kans te vat om verwerp en selfs verneder te word deur hierdie kinders. Die keuse is die ouers sin. Ongelukkig kan daar nie staat gemaak word op die jonges nie, daar word net ‘n nuwe verskoning uitgedink waarom hulle nie op hulle eie bene kan staan nie. Soms is “tough love” nodig selfs al beteken dit onmin in die familie.
Die regte tyd
Dis weliswaar so dat vandag se jongmense langer neem om volwassenheid te bereik. Die afsny tyd van 25 vir die jonges om verantwoordelikheid vir hulleself te neem klink heel billik. Beslis nie 35 nie. Dis ‘n sensitiewe onderwerp.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you