Die krag van gebed

die krag van gebed

Die krag van gebed word soms onderskat. Ek het dit ook nie besef totdat ek kaal gestroop was en gebed al wat oor was nie. Soms as ouers kom ons voor uitdagings te staan waar jy magteloos staan en nie meer weet watter kant toe nie. Familie verhoudings is kompleks en daarom moet mens versigtig wees wie jy nader vir hulp.

‘n Laagtepunt

Dit is nie maklik om ‘n enkelouer te wees met al die verantwoordelikhede en verpligtinge nie. Soms raak dinge net te veel en weet jy nie meer watter kant toe nie. Dit het met my gebeur in 2006. Onheil het gewink uit ‘n onverwagse oord en ek het gesukkel om dit te hanteer en sin te maak uit al die slegte dinge wat oor my pad gekom het. Ek het desperaat probeer om dinge op my eie te hanteer totdat ek nie meer kon nie en huilend op die vloer neergeval het.

Die regte tyd, die regte plek

‘n Christen vriendin het my hande styf vasgehou en begin bid. Telkens wou ek my hande uit hare trek. Ek moes iets doen om die situasie beter te maak. Sy het egter net kalm voort gebid. Vir krag van bo, vir genade onbeskryflik groot en vir my. Ek kon voel hoe ek al kalmer word. Lank nadat die krisis al afgeweer was, het hierdie vriendin my gehelp om te glo in die krag van gebed en hoe om myself en my probleme oor te gee en dan terug te tree en te wag.

Die krag van gebed

Die film The war room beeld duidelik uit hoe jy gebed kan gebruik om jou omstandighede te verander. Skrywer Stormie Omartian het verskeie boeke oor die krag van gebed geskryf. Een van hierdie boeke Wanneer Ma’s vir hulle kinders bid wil ek uitsonder as ‘n boek wat elke ouer in hulle boekrak behoort te hê. Dit het my deur die moeilike jare gedra en hou my steeds elke dag op my knieë.

Moenie ophou bid nie

Ek het daardie fout gemaak en berou dit steeds. Wanneer dinge goed gaan is mens geneig om jou gebedslewe af te skaal. Reuse fout. Ek het geleer om nooit weer op te hou bid nie.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.