Cliff Richard op Nuweland
Cliff Richard op Nuweland in 1998 was my eerste internasionale konsert in ‘n groot stadion en wat ‘n belewenis was dit nie.
Nuweland hier kom ek
Dit was kort na my man se dood, my kinders was nog klein. Cliff Richard se 40ste jaar in die vermaaklikheidsbedryf word met ‘n Internasionale toer gevier. Dit sluit ‘n Suid Afrikaanse been van die toer in en dis my kans om Cliff Richard op Nuweland te sien optree. My Tannie het in die Kaap gewoon dus pak ek, My Ma en my kinders die pad aan Kaap toe. My Ma gaan kinders kyk en ek en my Tannie gaan Cliff kyk – sy ken die Kaap goed en verskaf die vervoer.
Die groot oomblik breek aan.
Ek en my Tannie pak die pad aan Nuweland toe. Ek ken nie groot stede nie – dus is selfs die liggies vir my prentjie mooi. Dit was ‘n koelerige aand. By Nuweland aangekom is die stadion helder verlig – massas mense stroom die stadion binne. Kaartjies is uitverkoop – al 20 000 van hulle en ek en my tannie is van die 20 000 mense. Ons sitplekke is op die paviljoen – in die middelste gedeelte.
Die goue sirkel is onder by die verhoog – plastiek stoele, almal dieselfde hoogte. Hulle kaartjies was peperduur.
Musiek van Cliff speel oor die luidsprekers. Kelners loop rond met eet en drinkgoed. Dis ‘n gesellige vrolike atmosfeer. Die verhoog lyk klein van ons sitplekke af. Dit is van Londen afgebring spesiaal vir die 40ste mylpaal. Trappies met name van sy treffers in helder kleure. Eers is daar ‘n voor vertoning en dan kondig iemand aan
Ladies and Gentlemen please put your hands together for Cliff Richard
Die skare is op hulle voete. ‘n Klein figuurtjie hardloop op die verhoog. Twee groot syskerms wys dit is Cliff Richard. Die skare juig en klap hande. Ek weet nou hoekom manne so groot na die groot stadions toe gaan. Dis ongelooflik! Ons ruk en rol, wieg heen en weer, doen die Mexican wave en sing saam.
Te gou is die aand verby
Drie ure later stap ons uit die stadion uit. Dis steeds ‘n vrolike feestelikheid buite. Sy bewonderaarsklub deel papiere uit terwyl iemand rondloop met liggies. Oppad terug huis toe gesels ek en my tannie land en sand. Ons sal die aand nooit vergeet nie. Amper 10 jaar later het ek hom weer gaan kyk saam met iemand anders en by ‘n ander plek. Dit is ‘n storie vir ‘n ander keer
Het jy geweet?
- In 1960 het Cliff ‘n beroering veroorsaak met sy eerste toer na Suid Afrika. In Johannesburg is die strate toegemaak en winkels gesluit en 10 000de mense het hom in die strate verwelkom.
- Hy is een van 4 kinders – en die enigste seun in die groep
- In 2022 het hy reeds meer as 300 miljoen CD’s/Plate verkoop. Net Elvis het meer verkope as hy
- Cliff besoek Kaapstad se wynroetes op ‘n gereelde basis. Hy besit ‘n woonstel in die middestad.
- Hy was net 17 jaar oud toe hy bekendheid verwerf het.
- Cliff het in ‘n onderhoud vertel dat 2 weke nadat sy eerste liedjie vir ‘n musiek maatskappy gestuur is, het hy ‘n kontrak gekry.
- Sy bynaam is die Peter Pan van pop
- Cliff het sy eie wynplaas en sy wyn het al verskeie pryse gewen.
- Elke jaar word die Cliff Richard kalender uitgereik en elke jaar is sy kalender een van die topverkopers.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you