Alleen met vakansie kan opwindend wees
Alleen met vakansie kan opwindend wees. Mens het nie altyd mense om jou nodig om gelukkig te wees en pret te hê nie. Jy is meer as genoeg.
Jan tuisbly se karretjie
Tuisbly is ‘n enkellopende se voorland as ons te verskrik is om alleen met vakansie te gaan. Nou hoe opwindend is dit om dag na dag tussen die vier mure van jou huis deur te bring. Kyk, ek hou van alleen wees en ek hou van tuisbly. My huis is my gunsteling plek. Tog is dit ook darem lekker om met vakansie te gaan en nuwe dinge te sien en te ervaar. Mense is op hulle beste trop diere en hou daarvan om saam met familie of vriende met vakansie te gaan. Enkellopende mense is geneig daartoe om weg te skram van vakansies op hulle eie. Bang vir die onbekende.
Alleen met vakansie kan opwindend wees.
Dit hoef nie ‘n angswekkende ervaring te wees nie. Die eerste keer wat ek alleen met vakansie gegaan het, het ek dit naby aan my huis gedoen. Dag uitstappies na plekke rondom my. Die dag voor my eerste alleen uitstappie moes ek myself eers behoorlik bymekaar maak. My moed wou my begewe. Dink ek is siek. Dit lyk na reën. Dalk volgende jaar. Genoeg Amanda, jy is ‘n vasbyter. Wys jou staal. Jy kan dit doen! Die eerste alleen uitstappie was na ‘n museum en ‘n wegneemete in my motor. Elke dag het beter gegaan as die vorige ene. Mettertyd het ek meer gewaag. Verder van my huis af.
‘n Reuse stap
Die groot dag het aangebreek. ‘n Hele Naweek weg van die huis af. Alleen. Dapper het ek my motor gepak. Noodhulp kissie en al. Net vir ingeval. ‘n Boek as metgesel en my getroue motor. Ek het ontbyt geëet by ‘n padstal voordat ons die lang pad aangedurf het. Sing lustig saam met die radio. Ietwat vals dink ek. Alleen in my self sorg eenheid, Vark worsies op die kole. Dis glad nie so sleg op my eie in die vreemde nie. Die naweek is gans te gou verby. Ek beplan reeds aan my volgende alleen vakansie.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you