Wat is dit met Frankryk?
Wat is dit met Frankryk en die Franse? Dit voel soms of elke tweede ding iets met Frankryk te doen het en so baie Suid Afrikaners trek selfs soontoe. Ons eerste Michelin chef JAN het twee restaurante daar. Skrywer Marita van der Vyver woon daar en nou het die kunstige Chantel Dartnell ook soontoe verhuis om daar die Franse met haar kos skeppings te betower. Ons verlies. Hulle wins.
Oja en talle van Ena Murray se boeke het ook ‘n Franse flair gehad. Haar beskrywings van Frankryk en die edelmanne tesame met die chateau’s het my in vervoering gehad. Daar was ‘n droom wêreld iewers buite waar gemaskerde edelmanne op perde ry en meisies red. So romanties.
Terug na die werklikheid. Daar is lankal nie meer edelmanne in Frankryk nie. Die chateau’s hou egter steeds bekoring in van ‘n tyd lank gelede. Die paleis Versailles waar Marie Antoinette as ‘n tiener ‘n koningin geword het en ook wreed vermoor is deur die gepeupel is nou ‘n besienswaardigheid. Ons het egter steeds vir Monaco en ons eie Prinses Charlene.
Suid Afrika en Frankryk
Suid Afrikaners het ‘n verbintenis met Frankryk. Die Franse Hugenote wat uit Frankryk gevlug het en hier in Suid Afrika die wynbedryf gevestig het. Verskeie Suid Afrikaners het in die laaste klompie jare na Frankryk verhuis. Steeds hou Frankryk ‘n bekoring in. En moontlikhede. Ek kan hulle nie kwalik neem nie. Die video’s en foto’s oor Frankryk is beslis betowerend. Ek het tog te lekker gelag vir Marita se beskrywings van die Franse leefwyse. Stakings bykans daagliks. Dokters sonder ontvangdames. Franse humeure en liefde. Blykbaar is jy ook nie ‘n opregte Franse burger indien jy op 2 jaar soontoe verhuis het nie. Jy bly ‘n vreemdeling.
Dan is daar Chef JAN wat met ons rondry in die Franse platteland. Elke episode van sy JAN reeks bevestig net Frankryk as ‘n droom bestemming. Iets wat vir myself betower is die Franse se liefde vir goeie kos. Die eet en kuier saam met mense. Buite onder ‘n boom. Al is die boom nie joune nie. Die Franse neem tyd om hulle kosse voor te berei en prop hulleself nie vol met geprosesseerde kosse nie. Hulle eet en kuier heeldag. Klein porsies. Goeie kos. Vars. Goeie geselskap.
Wat is dit met Frankryk en die Franse?
Franse Naels, Franse skyfies, Franse soene word ontleed in my Engelse artikel Oh my everything is so Frensch op my webblad Let’s make tea. Feit of fiksie. Het die Franse werklik alles uitgevind en ontwerp? Vind uit
Het jy ‘n Franse storie? Deel dit met ons. Nou moet julle my verskoon. Ek gaan nou Franse skyfies maak en onder my eie boom eet.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you